Local newsNews

Internasionale erkenning span die kroon op jare se toewyding

'n Mens werk hard, maar ek het nooit gedink dat die eer en erkenning my te beurt sou val nie," sê Joe wat ook die eienaar van Chazen Nature Reserve in die Vredefort-distrik is.

Joe Viljoen is die enigste Suid-Afrikaner om vereer te word met ‘n glanstoekenning by die Action Martial Arts Magazine Hall of Honors Banquet. Dit word vanjaar van 26-28 Januarie by die Tropicana Casino Resort in Atlantic City gehou.

Die toekenning is ter erkenning vir sy jarelange betrokkenheid en vestiging van die Ring Contact Fighting Art styl wat hy in 1984 ontwikkel het. Vandag word dié styl in 28 lande beoefen.

Die gevegstyl is gebaseer op elemente van boks, judo, stoei, ‘knock down’ (oyama) karate en ballet, en is in 1984 internasionaal erken. Daarna het ook nasionale erkenning in 1987 gevolg. Oor die jare het die styl 17 pro-wêreldkampioene, 14 amateur wêreldkampioene en 78 nasionale kampioene opgelewer, met Joe wat self die eerste skopboks pro-wêreldkampioen was.

Die Ring Contact Fighting Art presidensiële span met 21 spanlede wat Suid-Afrika in September by die World Kickboxing Organization se wêreldkampioenskappe in Engeland verteenwoordig het, het ook groot welslae behaal met 51 medaljes en 14 amateur wêreldkampioentitels wat verower is. Een en sewentig lande het aan die kampioenskap deelgeneem.

“‘n Mens werk hard, maar ek het nooit gedink dat die eer en erkenning my te beurt sou val nie,” sê Joe wat ook die eienaar van Chazen Nature Reserve in die Vredefort-distrik is.

Hy het vir jare gestoei en ballet, en in beide sportsoorte uitgeblink, maar toe hy moes kies tussen dans en ‘baklei’, was die antwoord die ontwikkeling van ‘n styl waarin hy die elemente van beide kon inkorporeer, sê hy.
In 1989 word hy WPKA middelgewig wêreldtitelkampioen – ‘n titel wat hy sewe keer suksesvol verdedig het totdat hy uiteindelik uitgetree en hom op die afrigting van studente toegepits het.

“Dit was lekker om gevegskuns in Suid-Afrika te ontwikkel, en om oor die afgelope veertig jaar te kon sien hoe daar teen die wêreld meegeding en titels verower word,” sê Joe. Daar is nou 92 Dojo’s in die styl in al nege provinsies van Suid-Afrika gevestig. Hoewel Parys nog nie ‘n Dojo het nie, is die plan om binnekort ook die styl hier te vestig, sê hy.

Joe Viljoen wat eersdaags internasionale erkenning sal ontvang vir sy jarelange betrokkenheid en bydrae tot die vestiging van Ring Contact Fighting Art.

In Oktober 2025 is Suid-Afrika die gasheer vir die Ring Contact Fighting Art Wêreldkampioenskappe waar deelnemers van 54 lande sal meeding. “Ek glo dit sal die grootste gevegskuns wêreldkampioenskap wees, en ‘n groot prestasie om dit plaaslik by die Emerald Casino te kan aanbied,” vertel hy. Die toernooi sal oor vier dae gehou word.

Oor die toekenning wat hy gaan ontvang, vertel Joe dat mense uit alle gevegstyle regoor die wêreld genomineer is, en slegs 50 toekennings oorhandig sal word. Naas sy benoeming was daar geen ander benoemings uit Afrika nie. “Dit is ‘n groot deurbraak vir my, vir die sport, vir SA en vir Afrika. My mikpunt was nog altyd om my beste te gee.

Baie internasionale studente kom gereeld na Suid-Afrika vir hul finale afronding. Ons volg ‘n wetenskaplike benadering in die styl met die fokus op fiksheid en gesondheid. Jou afrigter moet jou ken, en jy moet jouself ken. As jy jou vermoëns ken, het jy vertroue in wat jy doen. Dit is die geheim,” verklap Joe.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button