Local newsNews

“Hy was ons sonskyn”

Oud Parys-leerder sterf in motorongeluk

Kollegas van die 28-jarige Ruan van Loggerenberg was Maandag totaal verslae oor die hartseer nuus van sy dood, Saterdag 6 Januarie na ‘n motorongeluk op die Greenlandspad net buite Vredefort. Die ongeluk het net voor 15:00 die middag gebeur. Ruan was op pad huis toe, het sy ma, Leatitia vertel.
Daar was geen ander voertuie by die ongeluk betrokke nie.
Beide Ruan en Wian van der Westhuizen wat ook in die voertuig was, is per ambulans van die toneel vervoer, maar het Ruan met sy aankoms by die Parys-hospitaal gesterf.
Wian het veelvuldige beserings opgedoen maar is reeds uit die hospitaal ontslaan.
“Vanoggend was vir my baie moeilik. Ons is soos familie hier. Hy was vir my soos ‘n seun,” het ‘n baie hartseer Fanie Connoway, takbestuurder van Senwes Parys Maandag gesê. Anders as met die gebruiklike stiltetyd waarmee die werksweek elke Maandag by Senwes begin word, was daar Maandag ‘n leë plek toe die hoofde in ‘n oomblik van gewyde stilte gebuig is.
Ruan was ‘n oudleerder van Hoërskool Parys en het op 26 Julie 2018 by Senwes Parys begin werk. Aanvanklik het hy in die store gewerk, en toe later verkope klerk in die winkel geword. Hy was altyd vriendelik en hulpvaardig, Iemand wat uit sy pad gegaan het om ander te help. Hy het altyd 110% vir sy werk gegee, en was hoog in aanvraag by kliënte, het Fanie gesê.
Einde 2023 is hy bevorder, en het enkele dae voor sy dood op 2 Januarie in die pos as stoorbestuurder begin.
Niks vat die hartseer weg nie, maar ons is dankbaar vir die tyd wat Ruan vir ons geleen was, het Fanie gesê. Hy en Ruan het die laaste twee jaar nou saamgewerk en het hy sy diepe medelye aan die familie betuig.
Voordat Ruan by Senwes gewerk het, het hy ook vir ‘n tyd kontrakwerk vir ‘n instandhoudingsmaatskappy gedoen en by Aquawin gewerk.
“Hy was ons familie en sy vriende se sonskyn. Altyd gereed met ‘n glimlag. Die lojaalste en liedevolste mens,” het Leatitia haar jongste beskryf. Sy het vertel van sy groot liefde vir diere, en dat sy diere en vriende ‘n groot deel van sy lewe was.
Ruan van Loggerenberg wat Saterdagmiddag in ‘n motorongeluk net buite Vredefort gesterf het.
Talle huldeblyke en boodskappe van medelye is sedert die naweek op Ruan se Facebook-blad geplaas deur van sy vriende en oudskoolmaats. In een van die boodskappe skryf Wilner de Swardt: “My ou vriend weet nie waar om te begin nie. So baie jare (koekies) was jou naam en 3de Laan was altyd die plek. Altyd lekker gekuier. Was altyd lekker om in Senwes in te stap en te gesels….gaan dit mis as ek by Senwes kom… Rip my ou vriend.
Die begrafnis is Vrydag 12 Januarie om 11:00 vanuit die NG Moedergemeente, op sy ma, Leatitia se verjaardag. Ek sal nie meer op hierdie datum verjaar nie, het Leatitia gesê. “Van nou af sal ek Ruan se lewe op hierdie dag vier.”
Ruan het by Leatitia gebly.

Vriende en kennisse van Ruan kan fotos of n boodskap per WhatsApp na Leatitia by 078 098 6601 stuur voor Donderdag om in te sluit in die huldeblyk vir Ruan met die begrafnisdiens

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button