Local newsNews

Oudonderwyser se prag skilderye van dorp se bekende geboue

Nic se uitsonderlike werk is oor die jare in galerye in Johannesburg, Shelly Beach en Heidelberg uitgestal

 

Met sy kwaste in die hand laat die 85-jarige Nic Oosthuizen, van Parys se mooiste ou geboue op die skilderdoek lewe.

Die pragtige skildery van die huis langs Jalalpor se winkel net soos jy uit Parys oor die Potchefstroom-brug ry is een van sy nuutste werke, gesels Nic.

Deesdae sien jy Nic gereeld aan die skilder by die ateljee van skilder Riaan van den Berg in Breëstraat, waar jy dié en ander van sy prag werke sal sien.

As mense foto’s het van nog van die dorp se historiese geboue, sal hy dit ook graag wil skilder sê Nic en nooi mense om n draai by die ateljee te maak.

Nic en sy vrou Meyera het onlangs van Vanderbijlpark na Parys verhuis, maar eintlik is hy ‘n Hoëvelder, vertel hy. Hy’t kuns gegee vir die matrieks in Nelspruit, en daarna ook by skole in Heidelberg en Linden. Selfs ‘n draai op Ermelo gemaak waar hy geskiedenisondeerwyser was.

Maar atletiekafrigting was sy eintlike liefde. Hy’t oor die 50 jaar lank hekkies afgerig en meer atletiekkursusse bygewoon as wat hy kon tel. Onder sy hande is twee Springbokatlete, Dawie Kuhn en Anina van Deventer, later van Heerden, gebrei.

So tussendeur die skoolhou en ure op die atletiekveld was daar ‘n tyd wat Nic op sy pa se plaas by Standerton geboer het.

Eers in 1996 kon hy voltyds professioneel begin skilder vertel hy, en werk hy met olieverf om veral portrette, kinders en diere te skilder. Hy is bekend vir sy besondere skilderye van skape, en moes onlangs ‘n skildery van die Franse Notre Dame maak vir die NG gemeente Vaalrivier se wynveiling. Die skildery is voltooi twee maande voor die brand by die katedraal

Nic se uitsonderlike werk is oor die jare in galerye in Johannesburg, Shelly Beach en Heidelberg uitgestal, en nou ook by die Vandenberg Fine Art Gallery by The Trading Post in Breëstraat.

Naas sy onderwysdiploma het hy ‘n graad in Beeldende Kunste.

Related Articles

Back to top button