Local newsNews

Oudonderwyser en hekkies-afrigter skilder steeds op 85

Nic se uitsonderlike werk is oor die jare in galerye in Johannesburg, Shelly Beach en Heidelberg uitgestal

Sy kwaste dans in ‘n skeppende ritme oor die skilderdoek waar hy die lyne van haar gesig vasvang op die stoep van die kunsgalery. ‘n Olieverf spieëlbeeld van die vrou wat hy vroeër aan my voorgestel het.

Deesdae sien jy die 85-jarige Nic Oosthuizen gereeld hier aan die skilder by die ateljee van skilder Riaan van den Berg in Breëstraat. Twee kunstenaarsvriende in eie reg wat mekaar aanvul met hul passie vir die skeppende kunste. Nic die meer tradisionele skilder – Riaan die abstrakte kunstenaar. Dit is juis Riaan se vrou, Hermine, wat Nic die oggend staan en skilder toe ek hom hier raakloop.

Nic en Herimine by die portret wat hy van haar geskilder het.
Nic en Riaan.

Nic en sy vrou Meyera het ‘n maand gelede van Vanderbijlpark na Parys verhuis, maar eintlik is hy ‘n Hoëvelder, vertel hy. Hy’t kuns gegee vir die matrieks in Nelspruit, en daarna ook by skole in Heidelberg en Linden. Selfs ‘n draai op Ermelo gemaak waar hy geskiedenisondeerwyser was.

Maar atletiekafrigting was sy eintlike liefde. Hy’t oor die 50 jaar lank hekkies afgerig en meer atletiekkursusse bygewoon as wat hy kon tel. Onder sy hande is twee Springbokatlete, Dawie Kuhn en Anina van Deventer, later van Heerden, gebrei.

Hy vertel van die dae wat hy as spanbestuurder in 1986 die SA junior atletiekspan na die Wêreld junior atletiekkampioenskappe in Athene vergesel het waar hul toeskouers sou wees. Daardie jare het Suid-Afrika nog nie internasionaal kon meeding nie. Meyera was op haar dae self ‘n kranige atleet.

So tussendeur die skoolhou en ure op die atletiekveld was daar ‘n tyd wat Nic op sy pa se plaas by Standerton geboer het.

Eers in 1996 kon hy voltyds professioneel begin skilder vertel hy, en werk hy met olieverf om veral portrette, kinders en diere te skilder. Hy is bekend vir sy besondere skilderye van skape, en moes onlangs ‘n skildery van die Franse Notre Dame maak vir die NG gemeente Vaalrivier se wynveiling. Die skildery is voltooi twee maande voor die brand by die katedraal.

Nic se uitsonderlike werk is oor die jare in galerye in Johannesburg, Shelly Beach en Heidelberg uitgestal, en nou ook by die Vandenberg Fine Art Gallery by The Trading Post in Breëstraat.

Naas sy onderwysdiploma het hy ‘n graad in Beeldende Kunste.

Die trek Vanderbijlpark toe was om nader aan sy enigste dogter, Susan Greyling te wees, vertel hy. Susan is self ‘n befaamde kunstenaar. Ons het baie saam geskilder en selfs werke hier by EnStyle gehad,

Nadat hy Parys toe getrek het is Nic weer genader vir atletiekafrigting, maar vir nou het hy halt geroep om hom toe te spits op sy skeppingstalent waarmdee hy dit wat die oog sien op die skilderdoek laat leef.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button