Local newsNews

Kabeldiewe nie net vlytig in Parys nie

Oorhoofse Eskom kragkabels word gedurig gesteel en dit, tesame met die gebrekkige kragvoorsiening deur die plaaslike munisipaliteit aan die plaaslyne, laat talle Ventersdorpers met die resultaat dat hul net ‘n paar ure krag per dag het,

Terwyl oorhoofse elektriese kabel bykans weekliks in Parys weggedra word, en substasies gevandaliseer word, sit Ventersdorp se inwoners ook hande in die hare oor dié misdaad.

Oorhoofse Eskom kragkabels word gedurig gesteel en dit, tesame met die gebrekkige kragvoorsiening deur die plaaslike munisipaliteit aan die plaaslyne, laat talle Ventersdorpers met die resultaat dat hul net ‘n paar ure krag per dag het, berig Potchefstroom Herald.

Volgens inwoners het van die plaaslyne maar ‘n gemiddeld van 2 ure krag per dag.

Die Herald het in 2022 ook oor dieselfde kwessie berig, maar dit blyk nie of daar enige konstruktiewe vordering is om hierdie probleem te bekamp nie.

Volgens ‘n opgedateerde tabel van Mariaan Hendricks, een van die inwoners is daar sedert Mei 2022 – Oktober 2023 alreeds altesaam meer as 50 gevalle van kabeldiefstal in die Ventersdorp area wat tot ongeveer 600 ure van onderbroke krag gelei het. Duisende meters kabel is al vir meer as ‘n jaar en ‘n half gesteel.

In Oktober en die begin van November is daar alreeds omtrent 10 gevalle van kabeldiefstal.

Volgens VF Plus raadslid in Ventersdorp, Pieter Steyn, het hy en ‘n paar inwoners  van die dorp ‘n kabeldiefstal reaksiespan begin in 2020 waar hulle op eie koste patrollies ry, uitgaan en soek as daar kabel gesteel word.

“Die lyn vanaf Lichtenburg tot by Ventersdorp is amper 56km lank onder die lyn langs. Die oppervlakares sluit in wildskampe en rowwe terein wat moeilik begaanbaar is.

Ons het toe ook manne van Lichtenburg en Coligny genader wat ook nou deel vorm van ons groep. Hulle help en ry ook nou patrollies,” noem Steyn.

Volgens Steyn is daar ook al met Eskom vergader rakende hierdie dilemma. Daar is in samewerking met Eskom ook verskeie sekuriteitsmaatreëls toegpas om hierdie diefstal te probeer bekamp.

“Eskom het ook ander sekuriteitstoestelle aangebring op gedeeltes wat gehelp het. Ons reaksiegroep het ook met privaat maatskapye se hulp kameras op die been gebring op strategiese plekke wat baie help en wat ons hoop verder gevat word deur Eskom aangesien dit dalk die beste hulpmiddel is tot hede,” noem hy verder.

Ventersdorp sit ook met krag en ‘n waterkrisis.

Die VF Plus het ook verskeie mosies by die parlement ingedien oor die probleem wat Ventersdorp al vir meer as drie jaar lam lê. ‘n Vergadering is ook met die polisie belê om na strategieë te kyk om die sindikaat wat verantwoordelik is vir die diefstal, aan die pen te laat ry.

 “Ons hou aan om druk toe te pas en met werkbare voorstelle na vore te tree in belang van die gemeenskap. Ons ervaar egter dat die politieke wil ontbreek om daadwerlik op te tree.  Ons kan egter eenvoudig nie terugsit en toelaat dat misdadigers ons lewens beheer nie. Daarom gaan ons voort om met alle rolspelers te vergader om oplossings te vind. Ons voeg ook daad by die woord met die inisiatiewe waarvan ons deel vorm en deur die gemeenskap gedryf word,” voeg Steyn verder by.

Volgens J.B. Marks munisipaliteit woordvoerder, Jeanette Tshite, is die munisipaliteit bewus van die kabeldiefstalkrisis. Die munisipaliteit het ook in Julie versoek dat Eskom beurtkrag in Ventersdorp toepas gedurende die dag, maar wag op ‘n antwoord van Eskom se beurtkragkomitee.

“Ongelukkig het die meeste van Ventersdorp se infrastruktuur wat boerderygebiede van energie voorsien, agteruitgegaan. Ons het voorheen finansiering vir hierdie soort infrastruktuurverbetering ingesluit, maar daar is nog baie werk wat gedoen moet word. Hierdie vorm van infrastruktuur sal geleidelik opgegradeer word soos wat begrotingshulpbronne beskikbaar is,” verduidelik Tshite.

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button