Local newsNews

Bejaardes ontdek hul wortels in Sasolburg

’n Leersame dag was dit wel en ’n dag waar mense jare se kennis en liefdevolle navorsing kon deel

 

Mens is nooit te oud om iets nuuts te leer nie.

 

Die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) se Vaal-tak in samewerking met FAK Sentraal leer vir bejaardes by die Sasolburg NG Kerk Sentraal in Sasolburg van hul familiewortels. ’n Genealogie vir beginners-werksessie het die bejaardes in vervoering.

 

Dié sessie fokus op die terminologie en redes vir gebruik van simbole en numering in genealogie.

 

Het jy geweet dat daar spesifieke metodes is wat gevolg moet word om sinvol en logies ’n familielyn te kan vasstel? Hierdie metode is van uiterste belang.

 

In die genealogiese wêreld is dit krities om jou stamboom korrek na te speur. Die verkeerdelike plasing van ’n naam kan ’n hele familielyn in verwarring bring. Kophou is beslis die kenteken van hierdie geleentheid, maar die groep kwyt hulself goed van die taak.

 

Naomi Keyter, wat die geleentheid op Saterdag 18 November help aanbied het, som dit goed op deur te sê dat genealogie en kultuurnavorsing hand aan hand loop. Die een kan soms nie geplaas word sonder ’n staaltjie wat bevestig dat dit die regte persoon is nie.

 

’n Leersame dag was dit wel en ’n dag waar mense jare se kennis en liefdevolle navorsing kon deel. Die FAK is bevoorreg om hierdie geleentheid te ondersteun en die belangrikheid van genealogie aan hierdie groep oor te dra.

Related Articles

Back to top button