Local newsNews

Meer as ‘n miljoen net vir krag en water

Selfs nie eens gedurende die Covid grendeltydperk was daar soveel daaglikse uitdagings soos waarmee daar nou geworstel moet word en planne gemaak moet word net om basiese dienslewering te kan verseker nie.

Die Najaarsrus Tuiste vir Bejaardes moes sedert 2022 al meer as R1 miljoen se addisionele uitgawes aangaan net om te voorsien vir krag en water vir die sentrum se 200 bejaardes.

Dit is weens die uitwerking van beurtkrag, en die knaende water- en kragprobleme in Parys.

Hoewel die sentrum ‘n boorgat gehad het, was daar nie genoegsame water nie.

Daar moes in 2022 nog twee boorgate geboor word weens die Ngwathe munisipaliteit se gebrekkige watervoorsiening. Van die twee gate was een droog, en die tweede een kon 1 500 liter per uur voorsien, maar was nie standhoudend nie.

Gevolglik is ‘n derde boorgat vanjaar geboor wat ‘n verdere 1 500 liter per uur kon lewer, maar is ook nie standhoudend nie.

Benewens die koste van die boorgate moes drukpompe en watertenks opgesit word en pype aangelê word, en moet dit in stand gehou word.
Hoewel daar met die watertenks nou stoorkapasiteit vir 123 000 liter water is, kan die boorgate nie die tenks vol hou nie, al word daar regdeur die nag water gepomp teen groot koste.

Die afgelope drie weke het Najaarus net ‘n uur se munisipale water gehad, sê Elbe Ferreira, bestuurder van Najaarsrus.

Omdat daar nie water is nie, is die sentrum genoodsaak om selfs saans wasgoed te was met 70 bejaardes in die sentrumkliniek na wie omgesien word.

“Die plek is groot en jy moet instandhouding doen. Mense kritiseer en instandhouding bly agterweë omdat addisionele kostes aangegaan moet word as gevolg van ‘n onbekwame munisipaliteit. Mense kry swaar. Tuine gaan dood. Jy moet soos ‘n skoolhoof seker maak nêrens word water vermors – tuine natgemaak of motors gewas nie, want daar is nie water nie.”

Daar is skade wanneer bejaardes per abuis ‘n kraan sou oop vergeet as daar nie water is nie, en die water dan iewers deur die dag sou terugkom.
Verlede jaar moes ‘n kragopwekker gekoop word, en sou ‘n tweede kragopwekker vandeesweek gekry word.

Die koste van die rugsteun kragopwekkers beloop in totaal reeds R330 000 sonder die koste van die koppelings.

Voeg daarby die R22 000 se dieselrekening per maand om die kragopwekkers aan die loop te hou met die knaende kragonderbrekings bo en behalwe Eskom beurtkrag, soos wat die afgelope twee weke weer gesien is.

Die kragonderbrekings tydig en ontydig tussendeur daaglikse beurtkrag het verskeie besighede in die dorp se sakekern op hul knieë.
Ten spyte daarvan sê Elbe, moet die maandelikse munisipale rekening betaal word.

Die sentrum ry selfs sy eie vullis weg weens die onbetroubaarheid van munisipale dienslewering.

“Mens raak moedeloos, maar die Here voorsien altyd, sê Elbe as sy vertel van die oop hand en bereidheid om te help van onder meer Best View Fencing, Tip Top, Noble Equestrian, JH Dannhauser en die Boerevereniging.

Soveel planne is al gemaak om te voorsien in die krag- en waternood. By die 74 deeltitel skema eenhede op die perseel is vir elk ‘n 280 liter watertenk opgesit sodat die bejaardes water kan hê, maar ook dit moet uit die boorgate volgemaak word omdat daar nie munisipale water is nie.

Selfs nie eens gedurende die Covid grendeltydperk was daar soveel daaglikse uitdagings soos waarmee daar nou geworstel moet word en planne gemaak moet word net om basiese dienslewering te kan verseker nie.

Teen Gazette se druktyd Woensdag was daar weer verskeie dele van Parys wat nog sonder elektrisiteit was en bittere frustrasie oor die swak dienslewering van die Ngwathe munisipaliteit. Daar was veral groot ontevredenheid oor die gebrek aan terugvoer oor probleme.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button