Local newsNews

Silwer-eer in China vir dié oud skolier van Parys

Herman was sedert skooldae 'n veelsydige uitblinker by Parys Primêre skool, en later ook by Potchefstroom Gimnasium.

Van die 138 studente van meer as 60 universiteite uit 13 lande, spog Herman le Roux, ‘n oudskolier van Parys, met ‘n silwermedalje na sy deelname vir die Noordwes-Universiteit aan die BRICS Skills Competition in China.

Die uitstaande prestasie volg nadat Herman die eer te beurt geval het om gekies te word as een van net vier studente van die Noordwes-Universiteit wat vir die eerste keer aan die internasionale kompetisie deelgeneem het.

Herman is tans besig met sy meestersgraadstudie in Rekenaarswetenskap en Inligtingstegnologie aan die NoordwesUniversiteit se Potchefstroom-kampus. Saam met hom was twee PhD-studente, Jacqui Muller en Reo Molese van die Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoekkampus, en die Noordwes-Universiteit se Mafikeng-kampus onderskeidelik, asook ‘n B.Sc Honneursstudent, Rechard Preston,
ook van die Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoek-kampus genooi. Dr. Japie Greeff het as spanleier hulle vergesel.

Die eerste kompetisie waaraan die vier deelgeneem het, was Data Analysis & Visualization wat in Zhuhai, China gehou is. Dit is by dié kompetisie wat Herman weggestap het met ‘n silwermedalje, en Jacqui met ‘n bronsmedalje. Beide Herman en Jacqui deel hul medaljes met twee studente van ander universiteite.

In totaal het die kompetisie vir die Noordwes-Universiteit ‘n goue, twee silwer en drie bronsmedaljes in die sak gebring.

Daarna het hulle ook aan ‘n tweede kompetisie, Machine Learning & Big Data Skills Competition in Guang’An, China, deelgeneem, waar Jacqui weggestap het met ‘n tweede bronsmedalje wat hy deel.

Herman het in 2022 ook ‘n groot eer te beurt geval toe hy deur die International Association for Development of the Information Sociaty genooi is na die 19de International Conference on Applied Computing in Portugal. By dié wêreldkonferensie vir navorsers het hy ‘n
voorlegging gedoen oor die artikel wat hy geskryf het vir sy Honneursgraad-studie.

Dit het gehandel oor neurale netwerke en die toepassing van kunsmatige intelligensie vir die klassifisering van uitbarstings op die son.

Net drie studente uit sy Honneursstudiegroep van sowat 30 studente, was toe deur die universiteit gevra om artikels te skryf vir die konferensie. Vir die artikel het hy vir bykans ‘n jaar data versamel en navorsing gedoen, en gefokus op hoofsaaklik twee tipes uitbarstings op die son. Die uitbarstings is gekoppel aan gebeurtenisse wat as sogenaamde sonvlamme beskryf word. Die sonvlamme
en koronale massa-uitwerping gebeur gewoonlik as gevolg van ‘n proses wat magnetiese heraansluiting genoem word, vertel Herman.

Herman was sedert skooldae ‘n veelsydige uitblinker by Parys Primêre skool, en later ook by Potchefstroom Gimnasium. Hy het inligtingstegnologie tot matriek as vak gehad, maar vertel dat dit eintlik sy pa, Jan, was wat kleintyd sy belangstelling in die wêreld van rekenaars geprikkel het. Hy het na skool B.Sc IT gaan studeer. Herman het die naweek teruggekeer van China en was Sondag terug by sy ouerhuis in Parys.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button