Local newsNews

So beskerm jy jou boorgat

Wanneer jy die maksimum uit die boorgat wil pomp, veroorsaak jy ‘n drastiese daling in die vlak binne die voering

 

Ons het verlede week gekyk na die toenemende aantal boorgate in Parys, en die impak op die watertafel wat tot die ‘opdroog’ van ouer gate kan lei. Hoe kan ek maak om my boorgat te beskerm?

Kom ons kyk eers na die soort probleme wat ons kry.

Opdroog van gate

Dit gebeur gewoonlik wanneer die boorgat óf te vlak geboor is , óf toegeslik het oor tyd wat daartoe lei dat die pomp al hoër gelig moes word om nie modder te suig nie.

Waar die pomp drie jaar gelede nog sou water pomp, is die vlak nou so laag dat die pomp begin lug suig.

Eerstens, boor die boorgat diep genoeg.

Wanneer daar wel water bo 10m raakgeboor word, veral in die westedorp met die 20m sandlaag bo die harde granietformasie, moenie die boorman stop en dink jy spaar boorkostes nie.

Nie net moet die voering in die graniet geanker word nie, maar dit skep genoeg buffer tussen die dalende watervlakke en die bodem van die gat.

Die ideaal is om ‘n waterbreuk binne die graniet raak te boor. Gewoonlik word ‘n stang of twee verder geboor na so ‘n breuk om genoeg ruimte onder die breuk te skep sodat jou pomp by die breuk kan hang sonder om modder of klippies van die bodem af op te suig.

‘n Boorgat met staalvoering het ‘n beperkte leeftyd van ongeveer 30 jaar, afhangende van die dikte van die staal. Dit roes met tyd deur, en dan word sand of verweerde rots ingesuig wat dan stadig die boorgat van onder af vul.

Dit kan selfs met nuwe gate gebeur waar die voering nie diep genoeg in die graniet gesink word nie, en so word sand van onder die voering af opgesuig.

Dit kan ook gebeur wanneer die voering se kepe groter as die sandpartikels gesny is.

‘n Goeie boorman sal net die nodigste voeringlengtes keep en die res solied hou om die sand so ver as moontlik uit te hou.

Wanneer die sand ‘n groot kleifraksie het wat deur die kepe gaan beweeg, kan ‘n addisionele gruisfilter langs die voering afgegooi word vir ekstra beskerming.

Indien daar ‘n waterbreuk in die graniet onder die sandlaag raakgeboor word, kan ‘n bentonietseel selfs geskep word deur bentonietpille langs die voering af te gooi, wat dan uitswel en ‘n ondeurdringbare laag skep wat keer dat die boonste sandwater langs die voering afloop en saam met die granietwater opgesuig word.

Wanneer ‘n boorman dus wel klipgruis of bentoniet wil gebruik, moenie skrik vir die addisionele kostes nie, dis alles deel van die professionele afronding van ‘n boorgat om volhoubaarheid te verseker.

Water word raakgeboor in Parys. Foto: Verskaf

Nou het ek ‘n nuwe boorgat, hoe beskerm ek dit?

Seker die belangrikste ding is om die kleinste moontlike pomp te installeer.

Wanneer ‘n boorman sê die gat ‘blaas 10- of 20,000 liter per uur, moenie dink jy moet nou ‘n 2.2kw dompelpomp gaan koop wat daai volume eensklaps kan pomp nie. Dis dalk lekker om jou hele tuin op een slag te besproei met soveel druk, maar dit gaan die boorgat se leeftyd inkort.

 

Inteendeel gebruik die meeste huishoudings skaars ‘n tiende van daai volume op ‘n dag!

Koop eerder ‘n groter tenk (soos 10 of 20,000l) en ‘n kleiner pomp soos ‘n 0.55kw of selfs 0.375kw. Nie net is dit meer ekonomies op krag nie, dit gaan jou boorgat se leeftyd verleng.

Dis beter om kleiner volumes oor langer tye te pomp as groter volumes binne minute – jy hoef nie noodwendig jou 20,000l tenk binne ‘n uur te vul nie.

Wanneer jy die maksimum uit die boorgat wil pomp, veroorsaak jy ‘n drastiese daling in die vlak binne die voering wat lei tot verhoogde vloei vanuit die akwifeer na die boorgat om die vlakke te herstel.

Dit kan beteken dat die water so vinnig deur die sande moet beweeg dat die kleiner sand- en kleipartikels saamgesuig word tot binne in die boorgat.

Dan kan dit deur die pomp opgesuig word, wat die pomplemme wegvreet, of die boorgat van onder af toeslik. In ekstreme gevalle word soveel sand oor tyd deur die pomp opgesuig, dat daar gate langs die boorgat inval.

Probeer om die watervlak so min as moontlik af te trek sodat die water optimaal deur die sande gefilter kan word, en so min as moontlik sand die boorgat binnedring.

Vanuit jou groter tenk kan jy dan na hartelus besproei met ‘n groter drukpomp. ‘n Groter tenk skep ook ekstra buffer vir ‘n week of meer se gebruik sou iets met die pomp skeefloop.

Die volgende vraag is of ek my boorgatwater kan drink?

Parys se grondwater is oor die algemeen skoon en drinkbaar, behalwe vir ‘n hoë ysterinhoud wat kan vlek. In die volgende artikel kyk ons na hoe om effektief van yster ontslae te raak.

Lees ook:

https://www.citizen.co.za/parys-gazette/news/news-news/2023/11/09/boorgat-eienaarskap-die-impak-van-meer-boorgate-op-grondwaterbronne/

https://www.citizen.co.za/parys-gazette/news/2022/10/13/baie-vrae-oor-grondwater/

Johan Smit het sy graad in M.Sc Omgewingswetenskappe (Hidrologie en Geohidrologie) aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus verwerf. Hy is ‘n raadgewende hidrogeoloog van Parys, en is die afgelope bykans 20 jaar in die dorp gevestig. Johan kan geskakel word by 083 204 4674, of stuur e-pos na johan@tsunamiresources.com

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button