News

Ondersoek na beweerde munisipale spookwerkers

Volgens DA-raadslid Arnold Schoonwinkel is hy vertroulik ingelig Ngwathe het spookwerkers wat ten volle betaal word "sonder om 'n steek werk te doen."

Raadslede van die Ngwathe munisipaliteit is van mening dat dié munisipaliteit van sy werknemers betaal sonder dat hulle voltydse, of selfs enige munisipale werk verrig. Die sogenaamde ‘spookwerkers’ verwys na werkers op die munisipale betaalstate wat óf glad nie vir diens rapporteer nie, óf aanmeld maar dan net so gou weer van die werksplek verdwyn.

Vurige vermoedens hieroor is gehoor tydens die Finansiële Komitee (FinKom) se bespreking van knaende diefstal van munisipale eiendom vanaf persele (en skade aan geboue) by tye wanneer sekuriteitsbeamptes juis sulke voorvalle moet voorkom.

Rdl. Phillip van der Merwe (VF+) het benadruk dat Ngwathe nie tans oor ‘n doeltreffende stelsel beskik om amptenare by die werkplek in te klok, en weer uit te teken nie. Na die bespreking het die FinKom besluit om só ‘n stelsel te laat ondersoek vir dringende gebruik. Die ondersoek sal ook kyk na moontlike sekuriteitskameras, veral by magasyne en pakkamers om verdagte bedrywighede uit te wys en te monitor, en seker te maak dat sekuriteitspersoneel tydens hul skofte voltyds op die perseel is.

Volgens DA-raadslid Arnold Schoonwinkel is hy vertroulik ingelig Ngwathe het spookwerkers wat ten volle betaal word “sonder om ‘n steek werk te doen.”

DA-vrae in die Mangaung Metro, gesteun deur die VF+, het onlangs daartoe gelei dat 119 spookwerkers daar ontmasker is. In Maluti-a-Phofong, (die munisipaliteit met Harrismith as hoofdorp), het DA-ondersoeke, met die steun van die VF+ en sekere ANC- raadslede, gehelp om 26 spookwerkers aan die kaak te stel.

Met rdl. Schoonwinkel se verwysing na inligting oor sogenaamde “spookwerkers” binne die Ngwathe munisipaliteit het nog ‘n raadslid beweer dat ‘n personeellid in Koppies soggens vir diens aanmeld by die munisipale kantoor en dan dadelik verkas om ‘n winsgewende spaza tuis te gaan bedryf.

Na ‘n lewendige bespreking het raadslede van alle partye aangedring op ‘n volledige ondersoek oor die moontlike bedrog. ‘n Senior amptenaar het die raadslede ingelig dat so ‘n ondersoek reeds aan die gang is.. FinKom-voorsitter, ANC-raadslid Serati, het beloof dat die verslag oor wat bevind is met die ondersoek, binne ‘n maand op die komitee se volgende vergadering sal dien. Beide rdle Schoonwinkel en Van der Merwe het egter geëis dat daar vinniger optrede sal wees, onder meer waar nodig, kriminele sanksie.

Die verslag was teen Gaette se duktyd nog nie beskikbaar nie.

Related Articles

Back to top button