News

Diewe dra weer weg by museum

Onthou dat die museum tans net op afspraak besigtig kan word. Skakel Horst Muller by 083 348 7820 om te reël vir 'n museumbesoek. Of dalk kan jy van jou tyd beskikbaar stel om te help by die museum. Gesels gerus met Horst om te hoor hoe jy kan help.

Net meer as ‘n maand nadat twee Singer naaimasjiene uit ‘n stoorkamer by die Parys-museum gesteel is, is daar verlede week nog ‘n Singer naaimasjien uit die museum gesteel.

‘n Singer naaimasjien soortgelyk aan die een op die foto is verlede week uit die Parys-museum weggedra.

Die diewe het die Woensdagnag by ‘n venster toegang tot die museumgebou verkry. Die diefstal is die Donderdagoggend ontdek.
Benewens die verlies is daar ook die skade van die gebreekte venster wat nou herstel moet word. Geld wat daar nie is nie, omdat daar geen munisipale of regeringshulp is vir die instandhouding van die museumgebou nie. Met die vorige inbraak toe daar ook by ‘n venster toegang tot die gebou verkry is, het die FAK gehelp om diefwering voor die venster te sit.

Die FAK se Jan-Danie Malan, en Horst Muller wys na die venster waar die diewe in die museumgebou ingekom het, en ‘n naaimasjien toe weggedra is.

Die FAK is reeds ‘n geruime tyd nou betrokke by die museum, maar is die hulp van die gemeenskap baie nodig om die gebou en sy inhoud wat ‘n storie van die dorp en sy mense vertel, te laat behoue bly.

Vir Parysenaars het die museum hul nog altyd baie na aan die hart gelê, en was daar al verskeie aksies om skoon en reg te maak by die museum. Presies ‘n jaar gelede voordat vrywilligers die hele museum en museumterrein skoon en netjies gemaak het, het misdadigers voor die skoonmaaksie die hout van die stoepdak gesteel. Dit is hierdie skade wat haweloses en misdadigers aan die museumgebou aanrig, wat daartoe gelei het dat die museum destyds danksy hulp uit die gemeenskap omhein is.

Onthou dat die museum tans net op afspraak besigtig kan word. Skakel Horst Muller by 083 348 7820 om te reël vir ‘n museumbesoek. Of dalk kan jy van jou tyd beskikbaar stel om te help by die museum. Gesels gerus met Horst om te hoor hoe jy kan help. Lees ook die baie interessante verhaal van die Emily Hobhouse kantskool in Koppies op Parys se webtuiste by www.parysgazette.co.za.
* Lichtenburg se kultuurhistoriese museum is onlangs tydens ‘n brand verwoes.

Related Articles

Back to top button