News

‘n Naweek saam met Rooies in Vredefort

Rooies Strauss, 'n bekende op sosiale media, is die naweek by die Dinamika gemeente in Vredefort waar daar Vrydagaand saam gekuier sal word om 'n groot 'bonfire' wat reeds gepak staan op die Dinamika kerkterrein. Saterdagaand om 18:30 hou Rooies en sy familie 'n spesiale familiediens, en sal hy ook Sondagoggend se erediens by die gemeente waarneem.

 

Rooies kom van die klein Noord-Kaapse dorpie Groblershoop. Hy was deel van die Koevoete in die weermag. Nadat hy tot bekering gekom het, het hy begin om passievol te werk onder mense wat platgeslaan is deur die harde draaie van die lewe.

Tans is hy betrokke by ‘n sentrum op die plaas waar hulle onder andere dwelmverslaafdes bedien. Hul webblad is vol getuienisse van mense wat ‘n nuwe lewe kom vind het by Rooies en sy span. Hy is ook deel van Spear International se sendingopleidingprogram, en bedryf hulle ook School of Fire, wat mense oplei vir die sendingveld en die bediening. Rooies is bekend as ‘n mense-mens, sonder voorgee en tierlantyntjies. Met humor, maar ook erns, gesels hy oor sy eie ervarings in sy lewe, en die lesse wat hy geleer het om so ook ander te help.

Vrydagaand se saamkuier is ‘n gesellige en lekker buitelug geleentheid vir almal. Bring ‘n kampstoel saam as jy kan, asook ‘n baadjie vir die aandlug. Rooies gaan stories vertel van sy weermagdae tot vandag. Hierdie gaan ‘n besondere geleentheid wees met baie lag, maar ook dit wat die draaipunte in Rooies se lewe gebring het.

Elkeen bring sy eie vleis, koeldrank en eetgerei. Daar sal braaivleisvure, pap en sous voorsien word.

Saterdagaand se spesiale familiediens met Rooies en sy familie begin om 18:30. Dit gebeur min dat Rooies sy vrou en kinders saambring op ‘n uitreik, en hierdie is daarom ‘n baie spesiale geleentheid. By hierdie diens gaan hy spesifiek fokus op huwelike, gesinne, verhoudings – die dinge wat deesdae swaar onder die druk van die lewe gebuk gaan.

Daarom ‘n spesiale uitnodiging aan elkeen wat ook hierdie druk ervaar om moeite te doen om hierdie diens by te woon.
Na afloop van die diens word daar verversings en koffie in die kerksaal bedien.

Sondagoggend om 09:30 neem Rooies die erediens waar by die Dinamika-gemeente, wat die hoogtepunt van die naweek sal wees. Andrus en Francois, sy seun en skoonseun gaan by hierdie diens, en deur die loop van die naweek ook verskeie sangitems lewer.

Tydens die diens word daar ‘n spesiale kinderdiens in die kerksaal gehou waar MEE (en miskien LEE) gaan optree. Hierdie is twee groot “Mielie”-poppe wat die Mielie-rewolusie lei – nog een van Rooies en sy familie se vele bedieninge. Alle kinders van 2 tot 16 word genooi om direk na die kerksaal te gaan aan die begin van die diens waar hulle groot pret gaan hê saam met MEE. Na afloop van die diens is daar ‘n bring-en braai by die kerk. Almal is welkom.

Al hierdie dienste, etes en geleenthede is gratis, en enigeen is welkom om dit by te woon. Onthou net jou eie vleis en koeldrank vir Vrydagaand en Sondagoggend se saamkuier.

Vir navrae skakel of WhatsApp Juan Greeff by 079 874 1860.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button