News

Ngwathe wil Eskomskuld laat afskryf

Dit is egter duidelik - versuim om by die voorwaardes te hou, kan drastiese gevolge vir Ngwathe inhou.

Die Ngwathe munisipaliteit het verlede week aansoek gedoen vir ‘n proses waarvolgens munisipaliteite kan aansoek doen om afskrywying van Eskomskuld mits aan ‘n omvattende lys van vereistes voldoen word.

Hoewel dit ‘n stap in die regte rigting is vir Ngwathe wat teen 31 Julie die kragreus reeds ‘n enorme R1 825 210 00,00 geskuld het, sal Ngwathe sy sokkies hoog moet optrek om die vereistes na te kom vir die duur van die skuldverligtingsproses, het VF Plus rdl. Philip van der Merwe vandeesweek gewaarsku.

Sou Ngwathe se aansoek aanvaar word, is van die vereistes wat gestel word dat die munisipaliteit verbied word om enige lenings aan te gaan in die drie jaar periode terwyl die skuldverligtingsproses geld.

Die ernstige lig waarin nasionale tesourie die proses beskou blyk ook uit ‘n verdere vereiste dat die munisipaliteit moet onderneem om, indien hy nie by die voorwaardes hou nie, vrywillig by die Elektrisiteitsreguleerder (NERSA) sal aansoek doen dat sy elektristeitsvoorsieningslisensie gekanselleer word.

Rdl. Van der Merwe sê die vereistes om te kwalifiseer vir die skuldverligting behels ook die hersiening van die munisipaliteit se register van “armlastiges” (sogenaamde indigents”) om te verseker dat slegs mense wat vir die toegewings kwalifiseer, dit ontvang. Die munisipaliteit is verplig om aan sulke verbruikers 50 eenhede krag, en 5 kiloliter water per maand gratis te verskaf, maar die munisipaliteit moet toesien dat dié verbruikers betaal vir enige verbruik wat dié perke oorskry.

Die koste van die gratis dienste moet gefinansier word uit die billike deel (sogenaamde equitable share) wat die munisipaliteit kwartaalliks van die nasionale belastingfonds ontvang.
Hy sê dit is egter noodsaaklik dat die bydrae volgens betroubare statistiek verwerk moet word om te verseker dat dit korrek aangewend word. Inkomste gegenereer uit, en gevolglik ook winste op die twee handelsdienste, kan alleenlik korrek bepaal word as die fondse van die billike deel reg toegeken en aangewend word, sê hy.

Dit is ook die enigste manier waarop byvoorbeeld die inkomste uit elektrisiteit van die res geskei en afsonderlik hanteer kan word. Die skuldverligtingsvoorwaardes vereis dat inkomste bekom uit ‘n bepaalde handelsdiens, byvoorbeeld elektrisiteit, slegs ter bestryding van koste verbonde aan die betrokke diens aangewend mag word. Dieselfde geld vir water en rioolgelde.
Rdl. Van der Merwe verduidelik dat die skema vereis dat munisipale inkomste in die sub-handelsrekeninge eers aangewend moet word vir betaling van die grootmaat krag- en waterrekeninge voordat enige ander uitgawes daaruit bestry mag word.

Hy meen die afskrywing van die Eskomskuld sal ‘n enorme verskil aan die munisipaliteit se finansiële posisie maak, en moet Ngwathe elke moontlik geleentheid om dit te bewerkstelling met mening aangryp.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button