News

Waterkrisis: Daar is vordering

Inwoners van Vredefort is egter opnuut sedert die naweek sonder water gelos

Ten spyte van daaglikse watertekorte wat inwoners van Parys steeds ervaar weens eindelose probleme by die dorp se watersuiweringsaanleg,  en verouderde infrastruktuur, is die goeie nuus dat daar wel vordering gemaak word deur die kontrakteur  wat verantwoordelik is vir die herstelwerk wat oor die volgende agt maande by die  watersuiweringsaanleg gedoen moet word.

Volgens DA rdl. Saal de Jager wat daagliks die watersuiweringsaanleg besoek, het die kontrakteur Vrydag begin werk en is oor die naweek goeie vordering gemaak met twee besinkingsdamme wat reeds skoongemaak is, en die skrapers by een van die besinkingsdamme wat vir die eerste keer weer beweeg.

Met die werk wat reeds gedoen is, beteken dit nou dat sowat 1,5 megaliter water per dag meer gesuiwer kan word. Die suiweringsaanleg moet 15 megaliter water per dag kan lewer as dit optimaal funksioneer, maar kon tot nou slegs 5 megaliter water per dag lewer wat totaal ontoereikend is vir die behoefte van die totale gemeenskap van Parys. Dit is die rede waarom mense gevolglik steeds daagliks sukkel met watervoorsiening en sekere dele  minder water het as ander met kleppe wat toegemaak word om die beskikbare water te probeer verdeel.

Hoewel nog  baie werk voorlê en die herstelwerk  oor die volgende maande ook watervoorsiening sal beïnvloed, is die skedule so deur die kontrakteur opgestel dat dit die minimum ontwrigting vir verbruikers moet hê, het rdl. De Jager gesê.

Inwoners van Vredefort is egter opnuut sedert die naweek sonder water gelos met ‘n pomp wat onklaar geraak het. Hoewel hulp gekry is, is die pomp steeds nie herstel nie, en kan genoeg water ook nie tans by die rivierpompstasie onttrek word nie.

Honderde duisende se skade is ook verlede week weer by die 1912 rivierpompstasie in Oranjestraat aangerig met van die pype,  en sink wat van die dak weggedra is. Twee mense is vir die diefstal deur Parys Sekuriteit en die SAPD gearresteer.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button