News

Boer in jou agterplaas

Dit is ‘n inisiatief wat mense bemagtig deur die deel van kennis en hulpbronne aan te moedig

In die huidige tye, waar ons almal gevolge van ‘n wêreldwye pandemie ervaar, asook storms, hittegolwe, vloede, en ‘n hoender en eier-tekort, het die belangrikheid van selfdoen en selfvoorsiening in ons gemeenskappe al meer belangrik geword.

Solidariteit Helpende Hand het op 15 Oktober (op Nasionale Tuindag) ‘n inisiatief van stapel  gestuur wat nie net armoede wil bestry nie, maar ook ‘n pad na selfonderhoudendheid aanwys. Hierdie inisiatief, bekend as die PlantSelf-projek, het tot doel om mense en gemeenskappe te bemagtig deur self groente en voedsel te kweek, ‘n omgewingsvriendelike benadering wat ‘n gevoel van gemeenskap en hoop terugbring.

Hannes Noêth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê Helpende Hand droom van ‘n volhoubare toekoms vir ons gemeenskap. ‘n Toekoms waarin ons vry, veilig en voorspoedig kan voortbestaan. Helpende Hand wil die gemeenskap aktiveer en leer om selfonderhoudend te wees. Om self te plant is reeds ‘n stap nader aan nie net verligting van armoede nie maar ook die verbreking en voorkoming daarvan.

“Nie net is grond die oorsprong van lewe nie maar dit is in ons Afrikaners se bloed om te plant. Die projek fokus nie net op die fisiese nie, dit verander jou uitkyk, gee hoop en is iets om na toe te werk. Dit is baie meer as net plant, dit is die eerste tree na selftrots, geestelike groei en menswaardigheid. Helpende Hand fokus op die holistiese welstand van ons kwesbare groepe,” sê hy.

Die Plantkoepel

Een van die opvallendste aspekte van die PlantSelf-projek is die Plantkoepel. Hierdie unieke, omgewingsvriendelike tuinbou- en besproeiingstelsel stel mense in staat om ‘n voedselbron van hul keuse te kweek. Dit is ‘n draagbare kweekhuis wat herhaaldelik gebruik kan word en kan aanpas by verskeie weersomstandighede.

Die Plantkoepel is ‘n wonderwerk van tegnologie wat water bespaar deur vinnige verdamping te voorkom. Plante kan deur middel van oorhoofse sprinkelbesproeiing of spinnekopbesproeiing natgemaak word. Hierdie stelsel elimineer die behoefte aan skadelike plaagdoders en kunsmis, en verminder risikofaktore soos plae, voëls, insekte, en droogte. Die PlantSelf-projek fokus op ‘n basiese en kosbare hulpbron – die grond. Die grond is waar ons voedsel begin, en dit is in die Afrikaner se bloed om te plant en die aarde te bewerk. Maar hierdie projek strek veel verder as net landbou. Dit is ‘n beweging wat poog om die gees van selfdoen en selfvoorsiening te kweek en om die gemeenskap aktief te betrek.

“Die aanleer van basiese landboutegnieke, tuinbouvaardighede, en bewaringsmetodes, stel dit mense in staat om voedsel en ander noodsaaklike hulpbronne vir eie gebruik en selfs vir die gemeenskap te produseer. Dit is ‘n beweging weg van afhanklikheid van eksterne hulpbronne en ‘n stap na onafhanklikheid en vryheid.

“Dit is ‘n inisiatief wat mense bemagtig deur die deel van kennis en hulpbronne aan te moedig. Dit bou ‘n gevoel van gemeenskap en samewerking, waar mense mekaar ondersteun en saamwerk. Dit gaan oor die bou van veerkragtige gemeenskappe wat nie net in staat is om hul eie behoeftes te bevredig nie, maar ook om mekaar in tye van nood te ondersteun.’’

Vir meer inligting oor die Plantkoepel en hoe om dit te bestel, besoek:

https://helpendehand.co.za/plantself/

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button