News

Wat is fout met die Vaal se visse?

Stuur asseblief jul fotos van siek of beseerde visse na André Pietersen by 0799710728

Gazette se susterskoerant, Vaalweekblad het die onderstaande inligting en foto’s oor siek visse in die Vaalrivier vroeër die week van ‘n besorgde leser, Juanita Dekkers, en op dié koerant se Facebook-groep geplaas. Juanita se plasing het ‘n pos-reikwydte van meer as 52 000 behaal, wat toon dat dit ‘n baie kommerwekkende saak vir lesers en omgewingsbesorgdes is.

Juanita Dekkers het geskryf:
Wat gaan aan in die Vaalrivier, veral in die Deneysville-gebied? Die visse, verskeie spesies, is baie, baie siek. Die bloed syfer deur hul skubbe en vinne. Waar kan ons dit rapporteer? Ons hengelaars is baie bekommerd. Ons vermoed hier is groot fout in die ekostelsel. Ek wil net daarop wys dat al die visse weer vrygelaat is.

Dit is nie die eerste keer dat Vaalrivier- en Vaaldam hengelaars Vaalweekblad oor dié situasie ingelig het nie. Verskeie mense het die afgelope tyd met soortgelyke waarnemings geskakel en het Vaalweekblad reeds berigte in die koerant daaroor geplaas.  Vaalweekblad het ook Juanita se foto’s onder die omgewingsdrukgroep Save the Vaal Environment (SAVE) se aandag gebring.

Maar Henning Vosloo wat self ‘n bedrewe hengelaar en oordeienaar is sê dat wat mense soms miskyk is dat veral visse soos karps nou eiers lê en dat veral in voorplantingstyd spawn tyd) die visse mekaar seer maak wat dalk ‘n faktor kan wees. Hy noem dat daar steeds ook hengelaars is wat visse nog in hounette hou. Aan die einde van ‘ n hengelnaweek word van die visse dan weer teruggegooi en gebeur dit ook dat visse so beseer word.

 

AfriForum doen beroep op publiek om data oor Vaalrivier se siek visse in te samel

 AfriForum het na aanleidng van die berigte  van siek en beseerde visse wat in die Vaalrivier, en veral in die Deneysville-omgewing, aangeteken is, gereageer met ‘n beroep  op die publiek om te help om data oor die Vaalrivier se siek visse in te samel.

Volgens André Pietersen, lid van die VERREF Hengelklub en ’n besorgde lid van die publiek wat die datainsamelingsproses oor dié verskynsel koördineer, is verskeie rolspelers reeds by ’n ondersoek rakende die verhoogde voorkoms van siek en beseerde visse in die Vaalrivier betrokke. Verskeie kenners, insluitend dr. Mariska Laubscher, ’n mikrobioloog verbonde aan die Universiteit van Kaapstad, en dr. Gugulethu Moyo, hoofstaatsveearts van die Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling, sowel as die omgewingsdrukgroep Save the Vaal Environment (SAVE) vorm deel van die ondersoekspan.

AfriForum het hengelaars gevra om op die uitkyk te wees vir visse wat ongewone simptome toon, soos bloed wat deur die skubbe of vinne syfer. Hengelaars wat visse met dergelike simptome in die Vaalrivierstelsel teëkom, is gevra vom foto’s van die siek vis, tesame met koördinate en/of ’n akkurate beskrywing van die plek waar die vis gevang is, aan Pietersen te stuur. Hierdie data sal baie waardevol wees in hul ondersoek om vas te stel wat die oorsaak van die visse se ongesteldheid is.

“Dit is algemene kennis dat die hele Vaalrivierstelsel onder geweldige druk verkeer as gevolg van besoedeling deur industrieë, mynbou en onverwerkte riool wat vanweë wanfunksionele munisipale rioolstelsels in die rivier instroom. Oortreders kom weg daarmee, omdat die regering nie die vermoë het om omgewingswetgewing toe te pas en oortreders te vervolg nie. Wat ook al die presiese oorsaak van die visse se siekte is, kan daar met gerustheid aangeneem word dat hierdie siekte ’n simptoom is van die ongesonde en ongebalanseerde ekosisteem wat lank reeds kenmerkend is van die Vaalrivier,” sê Marais de Vaal, AfriForum se adviseur vir Omgewingsake.

AfriForum sê sodra die ondersoek verdere lig werp op die moontlike oorsaak, sal die burgerregte organisasie seker maak dat die betrokke partye verantwoordelik gehou word. “Die Vaalrivier verskaf drinkwater aan miljoene mense in Gauteng, die Vrystaat, Noordwes en die Noord-Kaap. Dit is daarom noodsaaklik dat hierdie waterhulpbron teen besoedeling beskerm moet word.”

Alle inligting rakende siek of beseerde visse moet gestuur word aan André Pietersen by 079 971 0728.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button