News

Grafskending is ‘n gruwelike daad en ‘n misdaad

Die opsetlike beskadiging van grafte in die Vredefort begraafplaas die afgelope tyd het oor die land opslae gemaak.

Die opsetlike beskadiging van grafte in die Vredefort begraafplaas die afgelope tyd, en die nuus dat jong seuns in hegtenis geneem is, plaas weer die kollig op grafskending.

Die seuns, tussen die ouderdom van 12 en 14 jaar, moet op 19 Oktober voor die landdroshof in Vredefort verskyn.

Maar wat is grafskending?
Grafskending of grafskennis beteken die moedswillige vernietiging of beskadiging van grafte. In teenstelling met grafroof is grafskennis meestal suiwer vernielsug. Dit is volgens die Suid-Afrikaanse Wet op Nasionale Erfenishulpbronne ‘n misdaad. Die verwydering van (blom) versierings, aangeplante bome, ystertralies of sierhekke word ook hierby ingereken. Elke ongemagtigde ingryp of verandering in die toestand van ‘n graf is, maar wel met die plaaslike wetgewing ingereken, gewoonlik ‘n misdaad.

Volgens die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne, No. 25 van 1999, word ‘n graf omskryf as ‘n plek van teraardebestelling en sluit die inhoud, grafsteen en ander aanduiding van so ‘n plek in, asook enige ander struktuur op of waarmee so ‘n plek geassosieer word. Grafte en begraafplase word as Nasionale Eiendom beskou. Seksie 36(3): Geen persoon mag, sonder ‘n permit wat deur die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap of ‘n provinsiale erfenishulpbronowerheid uitgereik word, die graf van ‘n oorlogslagoffer, of enige begraafplaas of gedeelte daarvan wat sulke grafte huisves, vernietig, beskadig, verander, opgrawe, van sy oorspronklike posisie skuif of andersins steur nie; enige graf of begraafplaas ouer as 60 jaar wat buite ‘n formele begraafplaas, wat deur ‘n plaaslike owerheid omgesien word, vernietig, beskadig, verander, opgrawe, van sy oorspronklike posisie skuif of andersins steur nie; of enige toerusting of opgrawingstoerusting wat hulp verleen by die opsporing en herwinning van metale na die begraafplaas of graf, soos verwys in paragraaf (a) of (b), bring of gebruik nie.
Indien die grafskender skuldig bevind word aan bogenoemde oortredings, soos gestipuleer, word ‘n vonnis opgelê: ‘n geldboete of gevangenisstraf van hoogstens drie jaar of sowel ‘n geldboete as gevangenisstraf.

Voorbeelde van grafskending is SA:
* ‘n Kraai van vyf maande oud, Rocco, is in 1992 in hegtenis geneem nadat hy herhaaldelik die versigtig geplante blommetjies op ‘n graf in Koekenaap uitgepluk het.
Die naasbestaande het gedreig om die voël te skiet en die polisie het vir die kraai se eie veiligheid die voël in hegtenis geneem. Sy vonnis was dat sy vlerkvere geknip moes word.

* In Port Elizabeth is twee mans in 1991 van grafskending skuldig bevind nadat hulle die skedel van ‘n vrou uit ‘n begraafplaas verwyder het. Die landdros het elk gevonnis tot vyf houe met ‘n ligte rottang en vier maande gevangenisstraf, opgeskort vir drie jaar. Die twee beweerde sataniste is gevonnis op elkeen twee afsonderlike aanklagte van grafskending by die Walmer-begraafplaas. ‘n Engel is in die Noordeinde-begraafplaas van ‘n graf afgebreek en swart geverf.

* Die aluminiumhouers en koperplate van monumente word dikwels afgesteel, gesmelt en dan vir skrootyster verkoop. So is die naamplaat van die Anglo-Boereoorlog-monument en ysterkruise van die grafte in die Cradock-begraafplaas afgebreek en vermoedelik verkoop. Inligting: Wikipedia

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button