News

Dorp se toerisme-juwele geskilder

Kom kuier saam en kyk hoe die kunstenaars werk. Dit gaan 'n saamkuier oggend wees vir die hele gesin soos dié dorp lanklaas gesien het.

Maak jou reg vir groot makietie in Parys Saterdag, 30 September wanneer die dorp se kunstenaars op die oop erf oorkant Spar langs Parys se hoofstraat, die verfkwaste gaan nader trek om op 25 vullisdromme, die dorp se unieke toerisme-aantreklikhede en aktiwiteite uit te beeld in elke kunstenaar, jonk en oud, se unieke styl.

Terselfdertyd sal jy ook van hierdie kunstenaars se werke kan sien en koop.

Die gedagte is om die dromme dan op te veil sodat besighede en individue, of instansies wat ‘n drom wil borg, op die manier sal bydra tot ‘n skoner dorp met dié kleurvolle skilderkuns. Parys is immers bekend vir sy vele kunstenaars, en wat ‘n beter geleentheid as juis dié projek wat geloods word onder die vaandel van MooiParys om te spog met wat Parys besoekers bied.

Een van die dorp se kunstenaars, Daniel Steyl, het vandeesweek ‘n voorsmakie gegee van wat met die projek verwag kan word met sy uitstaande uitbeelding van Parys se bekende hangbrug oor die Vaalrivier op een van die vullisdromme.

Daniel skilder al van kleintyd af, en was vroeër kunsonderwyser by die Crawford College in Fourways. Hy is die afgelope vyf jaar in Parys gevestig, en kan jy sy werke sien by die Daniel Steyl Art Gallery by The Trading Post in Parys se hoofstraat, waar hy ook die Steyl Boutique het. Hy werk meestal met akriel en is bekend vir sy groot skilderwerk. Hy doen meestal gesig- en figuursketse.

Daar sal lekker eet- en drinkgoed op 30 September verkoop word. Kom kuier saam en kyk hoe die kunstenaars werk. Dit gaan ‘n saamkuier oggend wees vir die hele gesin soos dié dorp lanklaas gesien het. Belangstellende kunstenaars kan 072 779 4079 skakel.

Related Articles

Back to top button