News

Vir oulaas ‘n kans om die sterrehemel op sy beste te bekyk

Kom geniet hierdie laaste sterrekyk vir die seisoen

Daar is verskeie redes hoekom die sterre in die wintermaande beter gesien word. In die somer verwak die hoër voggehalte van die lug, en warm lugstrominge die sig. Boonop skuif die sigbare snit van die sterrehemel deur die jaar stadig van oos na wes, en toevallig is die gedeelte wat tussen Oktober en Januarie gesien kan word nie so interessant nie.

So byvoorbeeld is die Suiderkruis dan vroegaand reeds onder die horison. Die einde van die sterrekykseisoen kom nou nader. Met die aanbreek van die lente raak die waarskynlikheid van bewolkte weer groter en die sekerheid dat die sterre hoegenaamd sigbaar sal wees kleiner. Met die volgende donkermaan in die middel van Oktober sal die weer waarskynlik ook nie meer so stabiel wees nie, en raak die risiko van bewolkte weer te groot om verdere sterrekykgeleenthede te beplan.

Die laaste sterrekyk van die seisoen vind daarom eerskomende Saterdagaand, 16 September plaas by die sterrewag op Deelfontein. Die aand bied vir oulaas ´n goeie geleentheid vir sterrekyk – veral omdat die meeste planete hierdie winter aan die ander kant van die son was, en nou vir die eerste keer weer sigbaar sal wees sonder om te laat wakker te bly.
Veral Saturnus is altyd ´n treffer om deur ´n teleskoop te bekyk.

Soos gewoonlik lei Frik le Roux van die Pretoria-tak van die Astronomievereniging van Suid- Afrika die aanbieding. Dit begin 19:00 met ´n aanbieding in die seminaarkamer langs die sterrewag, en sal tussen 21:00 en 22:00 eindig. Tref ten spyte van die warmer weer voorsorg teen die koue met warm klere, skoene en ´n mussie.

Kinders is baie welkom en kan (tot sestienjarige ouderdom) verniet bywoon.

Padaanwysings na Deelfontein en die kos-tes vir volwassenes is op www.deelfontein.co.za verkrygbaar, of soek Deelfontein
Guest Farm op Google Maps. Bespreek asseblief vooraf by 083 280 9784 of gerhard@deelfontein.co.za. Deelnemers is welkom om reeds vanaf 17:00 met ´n piekniekmandjie op te daag en aandete op die perseel te geniet. Tafels en stoele is beskikbaar, sowel as kookwater vir koffie of tee.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button