News

Boere veg ure lank teen brandverwoesting in Koepel

Herman en Juan het gesê dat hul ongelooflik dankbaar is vir elkeen wat ure lank Sondag, selfs in die nagure, gehelp het om die brande onder beheer te kon bring.

Boere veg ure lank teen brandverwoesting in Koepel

Vir die eerste keer in bykans 50 jaar het groot gedeeltes van die besondere habitat eie aan die Vredefort Koepel, op die plaas Baskop gebrand, toe dit Sondag op twee plekke in die Vredefort Koepel begin brand het met wind wat konstant deur die dag gewaai het.
Juan Greeff het Maandag vertel dat dit aanvanklik rondom 11:30 die oggend eers by Hadeda Creek begin brand het. Warrelwinde het die vlamme suidwes gedryf en het dit ingebrand op Kommandonek en die plaas Helena oor ‘n totaal van sowat 100 ha.

Boere van die Koepel Boerevereniging en Koepel Brandvereniging, maar ook uit ander sektore en die gemeenskapppe van Parys, Vredefort en uit die Noordwes provinsie het letterlik kilometers ver gery om op die noodroep te reageer.
Die Koepel met sy rante en koppe is bekend vir die uiters moeilike terrein wat brandbestryding problematies maak veral met windturbulensies wat die vlamme letterlik 180 grade in die koppe laat draai.

Herman van Wyk van die plaas Baskop en sy werkers was besig om op Kommandonek te help veg teen die vlamme toe een van Herman se werkers en nog ‘n werker wat onder toesig met ‘n blaser en rugsakspuit in die rante was, oorweldig is deur die rook wat teen die kranse vasgebrand het. Beide is met brandwonde na die Parys Distrik-hospitaal geneem vir behandeling. Een van die werkers kon na behandeling ontslaan word, terwyl die ander na die Boitumelo-hospitaal in Kroonstad oorgeplaas is met brandwonde en ‘n gebreekte gewrig.

Terwyl Herman nog na die beseerde werkers omgesien het, het boere hulle gehaas na Baskop waar berig is dat dit tussen die koppe begin brand het, en gesprei het na die plaas Nooitgedacht.
Daar is tot in die oggendure Maandag nog teen die vlamme baklei, en is die brand uiteindelik onder beheer gebring toe daar rondom die koppe ingebrand is.

Teen net na 06:00 vanoggend het dit egter weer op Helena begin brand.

Sowat 80 hektaar het met die Baskop-brand afgebrand waaronder die prag suikerbos, protea en olienhout wat eie is aan dié omgewing in die hart van die Koepel. Subtropiese witbuffelgras het die vlamme hoog laat brand, en vertel Herman dat ‘n brand van dié omvang in die koppe op Baskop nie in die afgelope 50 jaar gesien is nie. Kleiner brande was daar wel wat meestal deur weerlig veroorsaak is. Om mense te sien wat so ver gekom het om te help, laat jou hart swel, het Herman Maandagoggend gesê.

Naas heinings wat in die brand beskadig is, en die werkers wat beseer is, was daar geen ander geboue of vee wat gebrand het, sover Maandag vasgestel kon word.

Herman en Juan het gesê dat hul ongelooflik dankbaar is vir elkeen wat ure lank Sondag, selfs in die nagure, gehelp het om die brande onder beheer te kon bring.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button