News

Man van staal se ysterperd kry naam

Hy is dankbaar teenoor Parys se gemeenskap wat positief is oor sy kuns, en hom 'n kans gee om 'n verskil in ander se lewens te maak, sê ds. Joggie.

Die Vrystaatse dorpie Parys het oor jare bekend geword vir vele interessanthede. Van die dorp se geskiedkundige hangbrug, tot die staal replika van die Franse Eiffeltoring in die kleine in die dorp se hoofstraat.

Deesdae pronk daar ook ‘n staalperd langs die hoofstraat van Parys. Die staalperd voor die Man van Staal Kunsgalery is die handewerk van ds. Joggie Kotzè.

Ds. Joggie is predikant by die NG Kerk Dwaalboom naby Thabazimbi waar hy sy staalkuns maak. Sy droom om sy eie kunsgalery in Parys oop te maak is in Junie vanjaar bewaarheid. Joggie hou van uitdagings en wou van die begin af ‘n groot kunswerk voor die galery monteer.

Hy het toe besluit op ‘n perd as buite kunsstuk omdat dit krag, vryheid en dapperheid simboliseer, gesels hy.

Die afgelope week het die kunswerk Parysenaars behoorlik aan die praat gehad met bykans 400 Parysenaars wat deelgeneem het toe daar gevra is vir ‘n naam vir die perd. Uit al die kommentaar op die Facebook-inskrywing wat geplaas is op Parys Nuus- en Inligting, is uiteindelik besluit dat “Ystervonk” die mees gepaste naam is, vertel Joggie en Eileen Kotze.

Eileen verduidelik dat die naam Vonk ook die naam was van Wolraad Woltemade se perd wat gesterf het tydens ‘n heldedaad. Joggie se kunsloopbaan het in 2022 begin toe hy ‘n groot bulkop gemaak het, en die reaksie daarop oorweldigend was.

Eileen Kotzé by die ysterperd-kunswerk voor die Man van Staal kunsgalery.

Hy het daarna nog baie ander kunswerke gemaak wat in verskeie galerye uitgestal word, en selfs al oorsee verkoop is. Joggie is bekend vir die trekkers, motors en motorfietse wat hy uit ou naaldwerkmasjiene maak, en sy industriële skaakstelle.

Elke kunswerk word van afval skroot en staal gemaak, en reflekteer sy bediening as predikant waar hy ook dikwels werk met mense wat ‘tweede kanse’ kry. In sy eie lewe, sê hy het hy al verskeie kanse gekry, en daarom simboliseer sy kunsstukke vir die ontvanger daarvan dat ‘n tweede kans gevra óf gegee word.

 

Related Articles

Back to top button