News

So reik Rotary uit in jou gemeenskap

Mense wat by Rotary wil aansluit en wil deelneem aan projekte wat hierdie dinamiese organisasie aanpak, kan Sandra by 064 516 0238 of Tilla by 084 515 3870 skakel.

Trou aan dit waarvoor die Rotarybeweging wêreldwyd staan, het die plaaslike Rotariërklub die afgelope jaar op vele maniere uitgereik in die Parys-gemeenskap. Nie net is hulp verleen waar nood is nie, maar ook baie gedoen om die gemeenskap saam te snoer.

Nadat die klub so byna doodgeloop het, het die ledetal onder die presidentskap van Sandra Uys, bekende sakevrou van die dorp, in ‘n kort tydjie gegroei van net drie na 12 lede, en steeds groei die ledetal, met Sandra wat vir ‘n tweede termyn as president verkies is.

Sandra Uys

Rotary Parys het die afgelope jaar onder meer handdoeke en matte uitgedeel aan die inwoners van die Vredefort Hartshuis. Altesaam 65 pare tekkies is aan die inwoners van Epilepsie SA se Vrystaat/Noordwes-sentrum oorhandig, terwyl dié wat nie tekkies nodig gehad het nie, gehelp is met komberse. Daar is ‘n spekboom-projek bekendgestel by die Blikoortjies-kleuterskool waaraan dié kleutertjies geesdriftig deelgeneem het. Om die geweldige bloedtekort aan te spreek, het die Rotariërs van Parys die geskenk van lewe gegee aan ander met hul deelname aan twee baie suksesvolle Blood Drives.

Maandeliks word daar gehelp met kos vir die plaaslike DBV, gesels Sandra, en is daar ook die afgelope jaar uitgereik na ander Rotariërklubs in omliggende dorpe, want sê Sandra – daar is altyd geleentheid om by mekaar te leer en mekaar te ondersteun in die beweging se uitleef van dit wat die waarheid is, regverdig, die bou van vriendskap en welwillendheid, en dit wat tot voordeel sal wees van hulle na wie uitgereik word.

Een van die grootste hoogtepunte die afgelope jaar was Parys Rotary se eerste en baie suksesvolle straatmyl wat heelwat be-kende atlete na die dorp gelok het toe daar in Februarie vanjaar in feestelike atmosfeer in die dorp se hoofstraat weggespring is vir dié groot geleentheid. Later vanjaar word daar weer so gemaak met ‘n straatmyl wat beplan word vir Oktober.
Dié straatmyl sal ook na verwagting deel vorm van ‘n reeks wat ook vir deelnemers geleentheid sal bied om in Potchefstroom en Fochville deel te neem.

Die straatmyl in Fochville word beplan vir 25 Oktober en word aangebied deur Remax, terwyl ‘n baanmyl vir Potchefstroom in die pyplyn is. Daar is selfs planne vir ‘n moontlike biermyl.

Op 23 September word ‘n groot fami-lie gesondheidsdag deur Rotary op die Hervormde Kerk Parys se kerkterrein aangebied, en sal mense hier kan deelneem aan ‘n bloedskenkkliniek terwyl daar ook noodhulpklasse, vroeë kankeropsporingstoetse deur Kansa, en tandheelkundige siftingstoetse deur die departement gesondheid gedoen sal word. Die gedagte, vertel Sandra, is om dit as ‘n gratis dag vir die gesin aan te bied.

Vanjaar wil Rotary Parys ook spesifiek na die jeug uitreik met die fokus op studente uitruilprogramme, en ‘n Rotary Interact Club vir jong Rotariërs tussen 14 en 18 jaar. Die jong Rotariërs sal by kleiner gemeenskaps- projekte betrek word.
Om ‘n Rotariër te wees hou groot voordeel en geleenthede in, en kan deure vir jou oopmaak juis omdat dit ‘n internasionale beweging is, sê Sandra.

Vanjaar is die hooffokus van Rotary geestesgesondheid, in ‘n wêreld waar die nood vir emosionele, sielkundige en sosiale welstand dikwels nie genoeg aangespreek word nie.

As jy daaraan dink dat die persentasie Suid-Afrikaners wat met geestesgesondheid sukkel verlede jaar met 8% toegeneem het – die skerpste styging uit 34 lande wat aan die peiling deelgeneem het, besef jy hoe belangrik geesteswelstand is. Studies het veral gevind dat die geestesgesondheid van mense tussen 18 en 24 jaar kommerwekkend agteruitgegaan het, met gemiddeld 44% van jong respondente wat aangedui het dat hulle ‘oorstuur’ of ‘ontsteld’ is. Die Suid-Arikaanse Depressie- en angsgroep het met die uitbreek van Covid-19 nagenoeg 1 200 oproepe per dag ontvang, maar teen September 2022 het die aantal oproepe gestyg tot 2 200 per dag.

Gesien teen dié agtergrond het Rotary Parys verlede naweek uitgereik na die gemeenskap met ‘n gespreksgeleentheid met die tema, “Mental Health matter”. Met dinamiese spreker Mandy Muchnick, hoof finansiële beampte van Panda Mental Health, is na verskeie aspekte gekyk rondom geestesgesondheid en hulpverlening deur die gratis Panda selfoontoepassing.

Die Panda geestesgesondheidstoepassings wat jy maklik en gerieflik op jou selfoon kan aflaai, bied ondersteuning en hulp vir ‘n verskeidenheid van geestesgesondheid aspekte waaronder nie net verslawing, aandagafleibaarheid, angstigheid en depressie nie, maar ook verskeie ander temas rondom ouerskap, stres hantering, verhoudingskwessies, geslagskwessies en selfs die hantering van verlies en eensaamheid.

 

Related Articles

Back to top button