News

Getroue pa en man se lewe kortgeknip na Njala-fratsongeluk

Renier Pieterse was met Marieke (35) vir ongeveer 12 jaar getroud en was ‘n pa van twee seuns, Luhan (8) en Dian (6).

‘n Fratsongeluk met ‘n Njalabul het die lewe van die spontane, positiewe en getroue gesinsman, Renier Pieterse (35) verlede Donderdagaand (24 Augustus) kortgeknip.

Pieterse was besig om die Njalabul, wat oor ‘n heining gespring het, terug te lei. Die ongeluk het op sy plaas in Boschhoek, ongeveer 35 kilometer buite Potchefstroom in die rigting van Fochville, gebeur.

Hy is na Potchefstroom vir mediese hulp gehaas. Nooddienste het Pieterse halfpad tussen Potch en die plaas op die N12 ontmoet en die man probeer resussiteer, maar was onsuksesvol.

Pieterse was met Marieke (35) vir ongeveer 12 jaar getroud en was ‘n pa van twee seuns, Luhan (8) en Dian (6). Marieke het haar man 17 jaar gelede in hul matriekjaar ontmoet.

Hy het ‘n gemengde boerdery gehad en die plaaslewe was diep gewortel in hierdie gesinsman en staatmaker se hart wat altyd ‘n glimlag op ander se gesigte geplaas het.

Pieterse, wat in Vanderbijlpark grootgeword het, het ook sy eie firma, FJR Brake & Trailer Spares, vir die afgelope twee jaar in Potch Industria, bestuur.

Marieke vertel dat als nog onwerklik voel en die gesin nie ‘n weg sonder hom kan sien nie.

“Ons kan nie glo hy is so gou van ons weggeneem nie. Sy kinders mis hom baie. Dit los ‘n groot leemte in ons gesin en familie,” noem sy.

Renier Pieterse (35) is op Donderdag, 24 Augustus in ‘n fratsongeluk oorlede. Hier is hy saam met sy vrou, Marieke en hul twee kinders Luhan en Dian. Foto: Verskaf.

Sy beskryf haar eggenoot as ‘n man wat spontaan was en almal om hom positief beïnvloed het. Vir Marieke was hy ook ‘n wonderlike pa en man.

“Hy was altyd vriendelik en ek het hom nooit sonder ‘n glimlag gesien nie. Hy was ‘n bok vir sport en nooit bang om enige uitdaging aan te pak nie. Hy was ‘n ongelooflike staatmaker, grapmaker en gesinsman,” sê sy.

“Hy was ‘n goeie voorbeeld vir sy kinders en dit wat hy hulle geleer het sal hul altyd bybly.”

Huldeblyke het van talle oorde op sosiale media ingestroom van familie en vriende na sy skielike afsterwe.

Ninette Müller skryf op Facebook dat Pieterse ‘n legend was en niemand sy plek kan vervang nie.

“Dit was ‘n voorreg om deel te kon wees van jou lewe. Jy’t altyd ‘n smile op jou gesig gehad, ‘n kwaad doen dingetjie of ‘n grappie om almal op hulle tone te hou. Jy was nie bang om voluit te lewe nie, jy het dit elke dag gedoen.”

*Voorlopige begrafnisreelings is vir Vrydag, 1 September by NG Kerk Vaalrivier in Vanderbiljpark.

https://potchefstroomherald.co.za/130340/getroue-pa-en-man-se-lewe-kortgeknip-na-njala-fratsongeluk/

Related Articles

Back to top button