News

Boere se onbaatsugtige stryd in golf van vlamme geloof

Mense was eenvoudig net ongelooflik, het Elize Bornman Maandag vertel.  "Hulle het nie omgegee om hul eie lewens en voertuie op die spel te plaas om te help nie. As dit nie vir hierdie distrikte se boere was nie, het my huis afgebrand"

Sonder om twee keer te dink het nagenoeg 60 boere uit die Vredefort en Vijoenskroon distrikte Vrydagmiddag kilometers ver gery om te help baklei teen ‘n golf van vlamme wat nagenoeg 6 000 hektaar se weiding in die twee distrikte verwoes het. Die brand het omstreeks 12:00 die middag ontstaan langs ‘n grondad sowat 12km  van die R501 Potchefstroom/Viljoenskroon-pad,  naby werkershuise na ‘n meganiese probleem met ‘n trekker. ‘n Sterk noordweste wind wat teen 34km/h gewaai het, en rukwinde van tot 65km/h het die vlamme genadeloos aangejaag in ‘n suidoostelike rigting om met tye tot 3km wyd te brand.
Die wind het later die dag teen 14:00 begin draai in ‘n wes noordwestelike rigting met ‘n afname in windspoed, maar rukwinde van tot 73km/h het dit bykans onmoontlik gemaak om die brand onder beheer te bring.
Mense was eenvoudig net ongelooflik, het Elize Bornman Maandag vertel.  “Hulle het nie omgegee om hul eie lewens en voertuie op die spel te plaas om te help nie. As dit nie vir hierdie distrikte se boere was nie, het my huis afgebrand het sy Maandag aan Gazette vertel.
Die vlamme is 2m van hul woonhuis op die plaas Klipdrif in die Vredefort-distrik gestuit. Elize en haar man Chris, is die afgelope 50 jaar op die plaas gevestig. “Dit is ‘n leeftyd se bymekaar maak. Wat red jy, en wat los jy? ” het sy gesê toe sy vertel het van die magtelose ure waarin hulle Vrydag moes toekyk hoe die vuur letterlik als weggevreet het in n onstuitbare verwoestingspad.
Sy vertel dat die vlamme hoër as die bome was, en toe skiellik “met die Here se genade net platgeval het.”
Dit het tot teenaan die chalets op die egpaar se trou venue, Phirimane, gebrand, maar nie ‘n enkele chalet het gebrand nie. Die skadunette by die chalet-parkerings, die dek van die venue se skadunet-dak, en die grasdak sambrele het gebrand, maar ons dankbaarheid is soveel meer as die skade, het Elize gesê.
Hulle het 400ha weiding verloor, baie drade, hekke en hoekpale. Met die helfte van die wildkamp wat gebrand het, was dit Maandag nog onseker of daar skade onder die wild is.
Volgens Christo Nienaber was die brand teen 21:30 aan beide kante onder beheer nadat dit in totaal vir die dag oor tussen 25 en 30km grondgebied gebrand het aan beide kante van die Renosterrivier in die rigting van Kroonstad vanaf Potchefstroom-kant. Die verste punte van die brand waar dit uiteindelik gestuit is, was by Ezparanza suidoos van die R59 in die Viljoenskroon-distrik, en by Wolwekop Game Ranch aan Vredefort-kant regoor Ezparanza.
‘n Ou, onbewoonde plaashuis en sowat 15 onbewoonde werkershuise het afgebrand maar niemand is in die brand beseer nie. Van die boere wat onverpoosd gehelp het om brandbande te maak om die vuur te stuit, het skade aan implemente gerapporteer.
Nienaber en Gideon Coetzee het as brandmeesters aan onderskeidelik Viljoenskroon- en Vredefort-kant, groot waardering gehad vir die boere se samewerking en hulp, asook vir die vroue wat gehelp het met water, koeldrank en kos vir hulle wat  ure aaneen teen die vlammesee baklei het.
Dit het Saterdag ook in die Barrage-omgewing by Rivierplaas oor sowat 150 ha gebrand, asook by Skietkop in die Parys-distrik vroeër verlede week waar dit teen die N1 naby die Engen One Stop doodgebrand het, het Pieter Kemp,
brandbeskermingsbeampte van die Vaal Eden Brandbeskermingsvereniging bevestig.
Sowat 30ha het ook Saterdag in die Vredefort Koepel gebrand aan die Vredefort-kant van die inloop by Pietie se Pan, het hy gesê. Die brand het op munisipale grond begin en toe ingebrand en versprei na Skulpspruit se kant toe waar dit teen ‘n mielieland vasgebrand het.
Die brand is Saterdagmiddag om 15:30 deur boere en lede van Working on Fire se Parys-span gestop.
Dit het die afgelope naweek wyd oor die Vrystaat-provinsie gebrand en het Free State Disaster Management en Cogta toestemming gegee om ‘n insident bestuurspan byeen te roep vir hulpbronne na die Brandfort-area waar vernietigende brande Vydag te midde van die sterk wind groot veeverliese tot gevolg gehad het in vier brande wat gewoed het rondom Brandfort, Dealeesville, Soutpan en Boshof.
 Vyf Working on Fire spanne en ‘n verkennersvliegtuig is onder meer na die Brandfort-distrik gestuur om te help.
Vrystaat Landbou het intussen ‘n beroep gedoen op die publiek wat wil help met skenkings vir die rampbestuursfonds om boere te help wat groot verliese gelei het met vee, infrastruktuur, geboue en toerusting om van die volgende bankbesonderhede gebruik te maak: Vrystaat Landbou, Absa rekening 470940670, takkode 632005. Gebruik die verwysing ‘brand’ en jou telefoonnommer.
Vrystaat Landbou sal seker maak dat die fondse wat ontvang word wel sal uitkom by boere wat ernstige nood het weens brandskade. Een van die dringendste behoeftes is noodvoer op die plase wat die ergste geraak is.
Mense kan ook met dr. Jack Armour in verbinding tree by 071 672 0271 of by jack@vslandbou.co.za vir meer inligting oor Vrystaat Landbou se gekoördineerde hulpverlenigingspogings aan boere.
Working on Fire besig met ‘n teenbrand in die Parys-distrik. 
You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button