Klagte nou by Nersa oor onwettige en gevaarlike kragverbindings
AfriForum Parys-tak verkla Ngwathe-munisipaliteit oor onwettige kragverbindings
Die AfriForum-tak in Parys het Woensdag 23 Augustus ’n klagte by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) ingedien oor onwettige en gevaarlike kragverbindings in Parys.
Die tak het op 18 Augustus ’n brief aan die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit gestuur waarin hulle 48 uur gegee is om die onwettige verbindings te herstel – dié brief is ook aan die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (CoGTA) en die Vrystaatse Departement van Gesondheid gestuur.
Daar is op 22 Augustus inspeksie gehou en bevind dat niks aan die onwettige verbindings gedoen is nie. Die AfriForum-tak het daarom ‘n dringende beroep op NERSA gedoen om in te gryp.
“Ons hoop dat NERSA, CoGTA en die Vrystaatse Departement van Gesondheid die munisipaliteit tot verantwoording sal roep,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
Volgens Petrus Coetzee, AfriForum se raadgewer vir Plaaslike regeringsake, is dit NERSA se wetlike plig as energiereguleerder om te verseker dat elektrisiteitsverspreiders, soos die munisipaliteit, aan hulle lisensievoorwaardes voldoen, en dat hulle die wet nakom. “Hierdie tipe agterlosigheid van die munisipaliteit stel die gemeenskap in gevaar. Dit sal uiters onverantwoordelik van NERSA wees indien hulle nie ingryp nie,” het Coetzee afgesluit.