News

Jongmanne se sakevernuf raakgesien

* Lesers kan die opwindende reeks op die ViaTV-kanaal 147 elke Woensdagaand om 19:30 volg

As dit by sakevernuf kom, het dié twee manne beslis wat dit vat om ‘n besigheid suksesvol op die been te kry. Willem Viviers en Nic Foley, twee leerders van Hoërskool Parys, was onder die Top 40 van vanjaar se Maak my ‘n Miljoenêr Entrepreneur van die Jaar-kompetisie.

Nic Foley en Willem Viviers sam met Albert van Wyk van die Maak my ‘n Miljoenêr Entrepreneur van die Jaar-kompetisie.

Die jong entrepreneurs is gekies uit ‘n indrukwekkende aantal van 144 ander hoërskool deelnemers wat ingeskryf het. Willem en Nic het die Brandbank uitda- gingsrondte in die Julie-vakansie aangedurf, waar hul entrepreneurskennis tot die uiterste beproef is deur moeilike vrae van die beoordelaars.

Die beoordelaars, Albert van Wyk, Marcius van Antwerp, Matthew Blauw, iHope Rudolf van der Westhuizen, Hendri Slabbert, Shaun Burr-Dixon en Jaco Grobbelaar, het elk baie ervaring in die besigheidsomgewing, en was baie moeilik om te beïndruk, vertel dié twee Parysenaars.

Ongelukkig was die Brandbank-ronde vir Willem en Nic te warm, maar om deel te wees van die Top 40 is op sigself ‘n groot prestasie. Hulle is immers gekies uit 42 000 hoërskoolleerders, en 144 hoërskool-entrepreneurs vir die kompetisie en die Via TV-reeks.

Die Maak my ‘n Miljoenêr Entrepreneur van die Jaar-kompetisie is ‘n innoverende inisiatief deur Albert van Wyk in same- werking met ATKV, Atterbury Property, Akademia, Bovest Wealth Management, Afrikaansdotcom en die MOS-inisiatief. Die kompetisie het ten doel om entrepreneurskap in Suid-Afrika te bevorder en jong entrepreneurs te bemagtig.
Maar wat doen dié twee jong entrepreneurs van Parys?

Willem en Nic het vir die kompetisie die aanlyn bemarkingsonderneming, WJ General Marketing ingeskryf wat hulle tydens hul inskrywing vir die kompetisie saam bedryf het.

Nic was eers van die begin van die jaar deel van dié onderneming, maar het sedertdien onttrek nadat hulle by die Brandbank uitgeval het.

Willem gaan voort met die onderneming wat digitale bemarking, grafiese ontwerp, webblad ontwerp en videografie doen. Hy vertel dat Nic hom baie gehelp het en dat sy kennismaking met Albert van Wyk ‘sy lewe verander het’. “Ek het al my idees vir my besigheid by Albert gekry, en baie geleer uit die kompetisie,” gesels Willem.

Willem agter sy rekenaar waar hy besig is met grafiese ontwerp.

Waar die onderneming aanvanklik net ‘n stokperdjie vir hom was, is dit nou ‘n volwaardige besigheid, en doen hy ook baie werk vir nie-winsgewende organisasies in Parys soos Epilepsie SA, MooiParys en Save Ngwathe.

Beide Willem en Nic sê dat dit ‘n groot uitdaging was om die onderneming te bedryf tussendeur hul skoolverpligtinge, maar soos wat hul vaardighede verbeter het, het dit makliker gegaan sê Nic. Willem vertel dat hy deesdae mense het wat hom help, en dit maak sy taak makliker. Hy wil graag eendag sy onderneming uitbrei, terwyl Nic rekenaarwetenskap na skool wil studeer.

.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button