News

Tennisdroom vir jong AJ bewaarheid

Vir AJ is daar nie so iets soos die woorde - 'ek kan nie'

Sy oë volg die bal, en blitsig beweeg die rolstoelwiele nader na die net. Dit is ‘n groot dag vir die 13-jarige AJ Pienaar van Parys.

Sy eerste ligawedstryd. Maar dit is meer as dit. Dit is ‘n droom wat waar geword het.

Die droom van ‘n jong seun om vir die eerste keer ooit ‘n sport te beoefen soos sy maats, ‘n Kampioen vir wie daar nie iets is soos die woorde – ‘ek kan nie’. Met sy onwrikbare deursettingsvermoë, sy ouers se toewyding, en ‘n Gideonsbende van maats, afrigters en die mense na aan hom wat vir elke uitdaging op sy pad ‘n oplossing soek, is AJ soos enige ander 13-jarige ‘n lewenslus- tige jong seun wat die wêreld wil verken.

AJ, ‘n graad 7-leerder van Parys Primêre skool, is gebore met spastiese diplegia in beide sy bene wat sy bene laat skeeftrek. Sedert sy geboorte het hy al verskeie prosedures en operasies ondergaan om verligting te bring vir die pyn en ongemak, maar daar is nie genesing vir sy toestand nie.

Met die ondersteuning van sy maats en personeel van Parys Primêr, is vandat hy skool toe is, seker gemaak dat AJ gemaklik by sy klasse kon kom. Hy is ‘n geesdriftige Voortrekker wat verlede jaar die hele graad 6 gebiedskamp by Doornkloof voltooi het. En vra maar dié wat al daar deur is – kamp Murgpyp is nie vir sissies nie. Ten spyte van die fisiese uitdagings het AJ se glimlag en positiwiteit sy spanmaats vir wie hy span- leier was, gemotiveer om deur te druk.

Op die plaas ry hy motorfiets soos ‘n regte maniak, gesels sy ma, Annelien, maar tot onlangs was skolesport die een ding wat AJ nie beskore was nie.

Hy wou bitter graag aan ‘n sport deelneem wat hy kon doen. Hulle het na elke sportsoort gaan kyk om te soek na iets wat vir AJ kon werk, en was die antwoord tennis, maar toe kom die uitdaging – ‘n afrigter wat bereid sou wees om AJ te help met sy unieke uitdagings.

Toe Jacques Olivier instem om AJ te help by die Parys-tennisklub, het AJ se hart oorgeloop van blydskap. ‘n Blydskap wat straal uit hom in elke beweging op die tennisbaan.

Annelien vertel met groot dankbaarheid hoe die tennisklub-bestuur, op eie inisiatief die hek na die tennisbaan groter gemaak het vir AJ om op die baan te kon kom. En dan is daar Marcelle Alborough wat ‘n groot aandeel het om AJ ook emosioneel voor te berei vir ‘n wedstryd. Sy skoolafrigter, juffrou Jolanda Jansen van Vuuren wat die afgelope drie weke sedert hy vir die senior seuns B-span as nr. 4 speel, die pad saam met hom geloop het. Jacques wat bereid was om die uitdaging aan te pak en AJ by die klub af te rig, maar ook sy maats wat sy behoud en sy anker is. Maandag het AJ enkels gespeel by die Fezile Dabi skoleliga, maar ook dubbels saam met spanmaat Harry van der Schyff wat hulle gewen het.

‘n Kampioen – nie net op die tennisbaan nie, maar ook as dit kom by dankbaarheid en die gawe om die kanse wat die lewe bied met albei arms aan te gryp, ten spyte van uitdagings, want vir AJ is daar nie so iets soos die woorde – ‘ek kan nie’.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button