News

All Things Adventure se 4×4-baan: Die plek waar alle hardebaarde sal wil wees!

Daar gaan iets van alles wees vir elke lid van die gesin: Van 'n avontuur-motorfietsbaan, Kids Badger Race, Kinderspeelplek, vlieghengel-demonstrasies en musiekvertonings, tot kosstalletjies en 'n wyn-ekspo.

Op 26 Augustus gaan die aarde dreun en die kranse antwoord gee wanneer MooiVaal Media en Stonehenge se All Things Adventure Ekspo by Stonehenge River Lodge gehou word. En waar kan avontuurliefhebbers ‘n lekkerder plek as Parys kry om ‘n dag op die walle van die Vaalrivier te kom deurbring?

Daar gaan iets van alles wees vir elke lid van die gesin: Van ‘n avontuur-motorfietsbaan, Kids Badger Race, Kinderspeelplek, vlieghengel-demonstrasies en musiekvertonings, tot kosstalletjies en ‘n wyn-ekspo.

Maar daar is één afdeling waarvoor die hardebaard-menere met ‘n voorliefde vir 4×4’s reeds hul lippe aflek: Die gewilde 4×4 baan! Die baan gaan 23 hindernisse bevat, insluitend ‘n “ski pad”, ‘n “drag strip” waar die ouens mekaar gaan opkeil, ‘n wipplankbrug, en natuurlik ‘n moddergat waar die manne lekker kan vassit en bewys hoe maklik (of moeilik) hulle hulself en hul voertuie uit ‘n glyerige penarie kan loswoel!

“Dit gaan ‘n 4×4 pretdag wees; nie ‘n kompetisiedag nie,” sê Klippies Kritzinger, hooforganiseerder van All Things Adventure se 4×4-baan.

“Die baan sal geskik wees vir gewone produksievoertuie sowel as vir ouens wat met hul V8s wil kom speel. ‘n Regte “fun”-dag. Soos in vorige jare sal daar weer baie toeskouers om die baan staan om te kom kyk hoe die modder spat. Veiligheid is natuurlik ons eerste prioriteit. Ons het vanjaar baie uitstallers soos Car HiFi Specialists, en Maxxis Tyres SA as hoofborg. Dit gaan ‘n lekker dag wees met groot pret, baie grappe en lekker lag,” sê Klippies. (Die name van sommige hindernisse is al klaar skreeusnaaks… soos Stonehenge Highway, Mamma se Tieties, en Skoonma se Gat).

“Ons begin die oggend om 08:00 en gaan aanhou tot so 17:00. Hoewel deelnemers moet betaal om op die baan te ry, kan hulle soveel keer ry as wat hulle wil,” sê Klippies.

Hope pryse is op die spel en almal wat deelneem, kry ‘n prys – selfs die ou wat die swakste bestuur. (Dié kry glo ‘n rolletjie toiletpapier vir al die bollie wat hy aanjaag!)

So, dagboek solank 26 Augustus en maak seker die hele gesin staan al vroeg die oggend reg vir die trippie Stonehenge River Lodge toe. Hier wag ‘n fees waar almal sal wil wees!

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button