News

Kragwoede by breekpunt

Ngwathe al dieper in die skuld

Nieteenstaande die interim bevel van die Hoë Hof wat vroeër beslis het dat Eskom nie munisipale beurtkrag kan forseer op die Ngwathe munisipaliteit nie, en dit reeds bekragtig is deur die Hoogste Hof van Appel en die konstitusionele hof, wil Eskom steeds die Vaal River Development Association (VRDA) dwing om die Hoë Hof te nader vir ‘n finale bevel, hoewel dit bloot akademies sal wees, sê die VRDA se adviserende prokureur, Lou van Wyk.

Die gevolg is dat maande na die hofbeslissing, Eskom steeds, direk in lyn met die interim bevel minder as die ooreengekome maksimum aanvraag elektrisiteit waaraan Eskom moet voldoen, aan Ngwathe verskaf. Pleks van die ooreengekome 21mVA, het Parys 20mVA tot sy beskikking met die enkele gekoppelde tranformator by die Eskom-substasie in Parys. Hiervan kan net 19MVA gebruik word, waarna die munisipaliteit geforseer is om rotasie beurtkrag toe te pas om skade aan die 20mVA Eskom transformator te voorkom.

Dit beteken dat inwoners van dié Vry- staatse dorp daagliks met urelange kragonderbrekings sit bykomend tot nasionale Eskom-beurtkrag. Watervoorsiening word ook ernstig geraak omdat daar steeds geen rugsteun kragvoorsiening by die dorp se waterwerke is nie.

Die krag- en waterkrisis is die afgelope naweek op die spits gedryf toe woedende gemeenskapslede die Eskom substasie beset het. Dit het verhinder dat munisipale elektrisiëns kritieke skakelwerk kon doen om oorlading van die Eskom transformator, en skade aan die reeds brose kragnetwerk te voorkom.

Die ongelukkigheid wat die naweek gesien is, gaan daaroor dat gedeeltes van die dorp selfs langer en buite die gegewe tydgleuwe van rotasie beurtkrag afgeskakel was. Mense kan glad nie hul daaglikse roetines beplan nie, en het verskeie besighede oor die afgelope maande al weens die kragkrisis moes sluit. Inwoners rapporteer daagliks dat die munisipale beurtkragrooster of “Smartie” krag soos daarna verwys word ,weens die kleurkodes van die skedule, nie akkuraat is nie. Verskeie strate val nou in ander kleurkodes nadat noodskakelwerk gedoen is wanneer daar probleme op die netwerk was. Die beurtkragskedule is egter nooit aangepas nie. Nog minder word daar gekommunikeer oor die skiellike en onvoorsiene afskakel van die kragtoevoer.

Volgens DA-raadslid Saal de Jager het hy opnuut gevra dat ‘n meer werkbare skedule opgestel word sodat mense minstens kan beplan. Hy het reeds verskeie voorstelle aan die munisipaliteit gemaak rondom die skedule om dit meer werkbaar te maak. Hy baklei steeds vir die instelling daarvan.

Volgens mnr. Van Wyk gaan die regspan van die VRDA voort om die Hoë Hof te nader vir ‘n finale bevel, maar ‘n duur en uitgerekte hofstryd gaan nie verligting vir Parys se inwoners bring oor iets waaroor die hof reeds beslis het, het hy gesê.
Hy het benadruk dat die VRDA saam met die burgemeester en raadslede, maande se werk ingesit het om oplossings te soek vir Parys se kragkrisis.

Die Ngwathe raad het toe einde Mei ingestem vir hul voorgestelde installering van korrigeringstoerusting by die hoofskakelaar by die Eskom-substasie deur Tilus Electronics. Weens Ngwathe se bestuurskrisis word daar nou gesloer met die ondertekening van die kontrak, terwyl dit juis ‘n dringende besparing van kragverbruik vir die dorp kon beteken. Sou Eskom ook bereid wees om volgens die interim hofbe- vel wat in Desember 2022 deur die hoogste hof bekragtig is, sy tweede transformator te koppel, kan dit wel ‘n beduidende verskil vir die dorp se kragnood maak.

Gegewe die feit dat Ngwathe ‘n geruime tyd reeds nie in staat is om sy Eskom maand-rekening ten volle te betaal nie, en sy skuld aan Eskom nou reeds R1 783 359 635,85 beloop soos Maandag bevestig is aan Gazette, moet dit verstaanbaar wees dat Eskom ‘n mate van sekuriteit vereis voordat nog meer krag aan Ngwathe verskaf word. Ngwathe het immers ook steeds nie ‘n aanvaarde plan met Eskom oor hoe hy sy skuld gaan betaal nie.

Parys en omliggende woongebiede het sedert 2008 heelwat uitgebrei en daarmee saam die aanvraag na krag. Kragverbruik het 21mVA begin oorskry tot 24,5 mVA, maar het Eskom in die verlede twee transformators by sy substasie beskikbaar gehad wat elkeen 20 mVA kon lewer. Op ‘n stadium het een transformator defek geraak en het Eskom dit van die netwerk ontkoppel. Die resultaat was dat die oorblywende transformator oorlaai was en defek geraak het. Parys was toe sonder krag vir etlike dae terwyl Eskom die transformator herstel het.

Eskom het kort daarna die (tweede) defek-te 20mVA transformator verwyder en later vervang met een van 10mVA omdat Ngwathe aangedui het dat hy 30mVA in totaal benodig.

Laasgenoemde transformator is egter nie aan die netwerk gekoppel nie omdat Eskom toe reeds begin aandring het dat Ngwathe se NMD eers verhoog moet word voordat meer as 21mVA voorsien sal word.

Twee jaar gelede het Parys se winterbruik al by 29mVA gedraai, en het daar intussen ‘n nuwe sentrum bygekom, en nuwe uitbreidings is in aanbou. Om die verhoging van kapasiteit net tot 25mVA te bewerk sou in Julie 2022, R 155 930,00 kos. Beide rdl. De Jager, en rdl. Phillip van der Merwe van die Vryheidsfront Plus sê Eskom boelie Ngwathe nou om verbruikersdeposito’s, wat voorheen nie op aangedring was nie, vir al vyf sy dorpe betaal. Dit het die totaal betaalbaar voordat Eskom sou instem tot kontraktuele verhoging van die NMD op R 66 735 000,00 te staan gebring. Ngwathe met sy benarde finansiële posisie het nie die geld nie, en Eskom gebruik Ngwathe se onvermoë om die munisipaliteit kontraktueel gebonde te hou aan die ou (uitgediende) vasstelling van 21mVA.

Sou die munisipaliteit toelaat dat almal soveel krag verbruik as wat hulle werklik benodig om te oorleef, sal dit meebring dat Eskom se enkele funksionerende transfor- mator so oorlaai word dat dit enorme skade sal beteken. As dit gebeur mag die dorp weer vir etlike dae sonder krag sit. Dit is dus in die huidige omstandighede noodsaaklik dat die lading gemonitor en beheer moet word, sê rdl. Van der Merwe.

As ‘n herhaling van die besetting van die Eskom substasie soos die naweek gesien is gebeur, hou dit ook groot risiko in vir Ngwathe se wankelende kragnetwerk. Die naweek is daarin geslaag om die besetters te kry om die substasie te verlaat met die belofte dat Ngwathe se uitvoerende burgemeester Maandagmiddag met die gemeenskap sou praat, maar die krisis is nog nie afgeweer nie. Mense is nie bereid om langer so te leef nie. Hulle soek krag en water.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button