News

Heilbron se krane was nie droog oor geld nie

Die Ngwathe munisipaliteit se agterstallige rekening by Rand Water was nie die rede waarom inwoners van Heilbron verlede week vir etlike dae sonder water gesit het nie.

 

Volgens Vryheidsfront Plus raadslid Phillip van der Merwe, het ‘n skrywe van Rand Water bevestig dat ‘n enjinkamer by die Sasolburgse pompstasie onder water was wat veroorsaak het dat water nie gepomp kon word nie.

Die skrywe het ook bevestig dat inwoners van die Metsimaholo en Ngwathe munisipaliteite (spesifiek Heilbron wat deur Rand Water voorsien word) deur die krisis geraak is. Die krisis is intussen opgelos. Gazette het vroeër berig dat ‘n verslag van onttrekkings uit die Ngwathe munisipale rekening tussen Julie 2022 en Mei 2023, gewys het dat Ngwathe in dié periode slegs R3,15 miljoen vir grootmaat wateraankope betaal het.

Uit die verslag was dit duidelik dat daar vir die genoemde periode geen betalings gedurende Augustus 2022 tot Mei 2023 vir grootmaat wateraankope gemaak is nie.

Rdl. Van der Merwe sê hoewel Ngwathe se rekening by Rand Water problematies is, is die versekering deur beide Rand Water en die Ngwathe uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer gegee, dat dit nie die rede was waarom Heilbron se krane verlede week droog was nie. Ngwathe se burgemeester het Vrydag, 21 Julie gesê dat die tegniese span van Rand Water onverpoosd gewerk het om te verseker dat watertoevoer na Heilbron en Phiritona herstel kon word nadat krane Sondagmiddag, 16 Julie begin droog loop het toe die pompstasie oorspoel het.

Sy het gesê dat Rand Water verskeie uitdagings gehad het met naas die skade by die pompstasie, ook pyplekke en drukwanbalans wat herstel moes word. Sy het lof gehad vir die Rand Water-span se kundigheid en toewyding om die probleme so spoedig moontlik te kon oplos. Water het Vrydag weer begin terugkom in die netwerk.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button