News

Wat kan en moet jou raadslid doen?

'n Raadslid se oorsigrol is basies beperk tot optrede binne raadsverband en pogings om as individu betrokke te raak by bestuursaspekte skep die risiko dat 'n raadslid van sy amp onthef mag word.

Met frustrasie en woede oor gebrekkige munisipale dienslewering is daar dikwels ook onkunde oor wat presies die rol van ‘n munisipale raadslid in die munisipale opset behels.

Wetgewing vereis eerstens dat raadslede hul pligte in goeie trou, eerlik, deursigtig, en op so ‘n wyse moet verrig dat die geloofwaardigheid en integriteit van die munisipaliteit nie gekompromiteer word nie.

Dit word verwag dat raadslede alle vergaderings van die raad sal bywoon. en sal stem oor enige sake wat op die agenda mag wees. Raadsvergaderings moet vir dié doel minstens kwartaalliks gehou word.

Bywoning van vergaderings stel raadslede in staat om deel te neem aan oorhoofse besluitnemingsprosesse, om verslae te oorweeg, en om oorsigtelike en wetlike gesag oor die werksaamhede van die munisipaliteit uit te oefen.

Belangrik is dat geen raads-lid as individu beskik oor enige sulke bevoegdheid nie – dit is slegs die raad in sitting wat daaroor beskik.

Van die belangrikste verslae wat oorweeg moet word is die burgemeester se statutêre kwartaalverslag, die jaarverslag, die verslag oor salarisse, lone en toelaes van personeel, en die verslag oor besluite geneem en uitgevoer ooreenkomstig gedelegeerde bevoegdhede aan die munisipale bestuurder verleen.

Die jaarlikse begroting en enige aanpassingsbegro- ting moet ook deur die raad goedgekeur word.
Raadsvergaderings dien as belangrike forums waar raads-lede inligting oor munisipale sake kan bekom deur vrae. ‘n Raadslid kan verder ‘n mosie by ‘n vergadering stel vir debattering en besluitneming. Prosedures daarvoor is vervat in die raad se Staande Reëls.

Raadslede mag nie lede wees van, of selfs as waarnemer toegelaat word, by enige sittings van komitees wat handel met die toekenning van tenders, toewysing van kontrakte of aankope by wyse van kwotasies nie.
Dit word uitdruklik in artikel 117 van die Munisipale Finansieswet verbied. Alhoewel raadslede projekte wat aangepak moet word in die begrotingsproses moet goedkeur, beskik geen raads-lid gevolglik oor geleentheid om enige insette in die verkrygingsproses te maak nie, wat ‘n groot leemte uit die oogpunt van raadslede laat.

Hulle word bloot ingelig nadat tenders en kontrakte reeds deur die verkrygingskomitee toegeken is.

Die statutêre gedragskode vir raadslede bepaal uit- druklik dat ‘n raadslid nie mag inmeng met die bestuur of administrasie van enige departement in die munisipaliteit nie, of enige opdrag mag gee, of voorgee om dit te gee aan enige werknemer van die munisipaliteit nie, of die uitvoering van enige besluit van die raad, of enige van sy komitees deur enige werknemer te belemmer of te probeer belemmer nie.

Versuim om aan die ge- dragskode te voldoen mag lei tot verwydering van die raadslid deur die lid van die provinsiale uitvoerende komitee op versoek van die raad.

Die rol van ‘n raadslid primêr is dus om beleid te maak rakende die wyse waar-op die munisipaliteit bestuur moet word waarna die uitvoering van sodanige beleid, behalwe waar enkele statutêre uitsonderings geld, uitsluitlik berus by die munisipale bestuurder en sy personeel.

Slegs die burgemeester beskik oor ‘n relatiewe oorsigrol wat aan hom/haar ‘n mate van gesag bied oor die optrede van amptenary.

‘n Raadslid se oorsigrol is basies beperk tot optrede binne raadsverband en pogings om as individu betrokke te raak by bestuursaspekte skep die risiko dat ‘n raadslid van sy amp onthef mag word. Groot takt en omsigtigheid is noodsaaklik waar ‘n raadslid wel met amptenare oor die uitvoering van hul pligte wil praat, selfs indien bloot gepoog word om raad of leiding te gee. Klagtes oor gedrag, wangedrag of pligsversuim moet by die munisipale bestuurder aangemeld word vir optrede.’n Raadslid beskik oor geen ge-sag tot dissiplinêre stappe nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button