News

Kinders dans en speel weer in dié parkie danksy die omgee van ‘n wendorp se mense

Dit is 'n gemeenskap wat kan saamstaan!

In die speelparkie in Eerstelaan het vrolike kinderstemme en die harmonieuse klanke van die slag- en blaasorkes van die Tumahole Youth Brass Band Dinsdagoggend vroeg weerklink,

Oral op die klimrame was kinders vrolik aan die  baljaar. ‘n Uitbundige skaterlag. Nie eens die ysige windjie kon die vreugde steel van hierdie kinders, en hulle wat hande gevat het om dié parkie reg te maak danksy ‘n inisiatief van MooiParys, en  gewillige hande en oop harte wat geglo het in die projek om dit te maak werk.

Na weke se harde werk was die vullis wat voorheen gesaai was in die parkie weg. Die lang gras gesny. Vragte vullis weggery deur Shaun Anderson. Fluks het die Pienaar-gesin gehelp gras sny en skoonmaak saam met die bekende hande van MooiParys se helpers. Pula Build it het gehelp om die  klimrame te herstel en te verf, en Coastal Hire het mobiele ablusiegeriewe voorsien vir vandag se parkie partytjie.

En Dinsdagoggend is die eindresultaat soos dit hoort gevier met ‘n kinderpartytjie in dié parkie wat voortaan deur die NG gemeente Parys-Suid instand gehou sal word met die hulp van MooiParys.

‘n Ongelooflike gemeenskapsprojek wat gewys het wat gedoen kan word wanneer ‘n gemeenskap saam staan om reg te maak, want dit is hierdie saamstaan van Parysenaars wat van die dorp ‘n wendorp maak.

In Saligna is die netjiese speelparkie wat vir jare al deur Dolf Lategan en inwoners van hierdie woonbuurt instand gehou word, al ‘n bekende en geliefde speelplek vir kinders. En nou, danksy dié spanpoging sal die Eerstelaan parkie ook weer aan kinders ure se vreugde kan gee.

Met Dinsdag se inwyding van die Eerstelaan parkie, het MooiParys se Whatty en Nautty karakters sommer ook ‘n draai kom maak om die boodskap  oor te dra dat by dié nuwe speelplek nie gemors kan word nie. Daarna het Whatty en Nautty  ‘n paar danspassies saam met die kinders gedoen om die winterkoue weg te dans.

Soos met enige ander partytjie  is daar ook heerlik weggelê aan die kolwyntjiekoekies wat deur die Waffle House geborg is, en ander lekkernye wat vir die kinders reggesit is.

‘n Groot dankie aan Selma Kok wat gehelp het met die voervoerreëlings van die  orkeskinders wat met hul uitsonderlike musiektalent gewys het wat die kinders van Parys kan doen.

Die orkeslede se ouderdomme wissel tussen 6 en 18 jaar, en speel hul met oorgawe onder leiding van dirigent, Bongani Letsoso, en orkesleier Pule Nhlapo.

Pule het uit sy eie sak al die instrumente van die kinders tweedehands gekoop, en kan jy as jy instrumente by die huis het wat jy nie meer voor nut het nie, gerus met hom gesels by 083 6992 456 as jy dit vir die orkes wil skenk.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button