News

Oudskoolhoof gee kleur aan dorp se hoofstraat

So word Parys mooi gemaak

Talle inwoners van Parys en besoekers aan die dorp is al verras met die kleurvolle blomgesig van Namakwalandse daisies en Afrikanertjies wat jou vrolik groet langs Parys se hoofstraat wanneer jy die dorp binnery. Hier by die Vredefort-ingang van die dorp staan meer as 2 000 van die blomme geplant. Die handewerk van oudskoolhoof, Paul Noome, wat die afgelope net meer as twee jaar in Parys gevestig is.

Elke dag sorg hy dat die plante natgemaak en daar geskoffel word. Baie stop by hom, of toet in die verbyry – vra selfs of hul kan help. Ander weer dink hy werk vir die munisipaliteit, vertel Paul. Maar vir Paul is plante ‘n passie.

Die dorp is goed vir my, sê hy, en vir hom is dit sy manier om terug te gee aan die gemeenskap. “Ek het die infrastruktuur, die kennis en die tyd,” gesels Paul wat danksy sy kweekhuis en saailaaie die taak op hom geneem het om die blomme te plant. Sy vrou het gehelp om die letterwerk op die pragtige Parys Graniet Welkom-steen by die dorpsingang weer netjies te verf.

Paul is een van die stigterslede van die nie-winsgewende organisasie MooiParys. Die organisasie maak getrou weekliks die dorp se hoofstraat skoon, en help om parke te verfraai en netjies te hou. Ook by die Sasolburg-ingang van die dorp het mense al verskeie plante geplant, en die mooimaak motiveer ander om ook hul deel te doen.

So het ‘n inwoner Maandag ‘n tuinier aan die werk gesit om aan die oorkant van die pad waar Paul sy blomme plant, te skoffel.

Die afgelope naweek het die Ngwathe Gemeenskapsforum saam met vrywilligers en Knipoog Tuindienste hande gevat met Mooi Parys met ‘n gemeenskapsaksie waar verskeie gedeeltes van die hoofstraat skoongemaak, sypaadjies se gras gesny, en slaggate met die hulp van AfriForum in die dorp se strate herstel is. Hiervoor is 100 sakke teer gebruik om 60 gate te kon herstel.

Selfs ‘n stopstraat wat al vir lank skitter in sy afwesigheid op die h/v Van Coller- en Schilbachstraat is danksy rdl. Marie la Cock en AfriForum weer op sy plek gesit.

Die werk van MooiParys word moontlik gemaak deur borge, mense wat self hul tyd gee om te help, maar ook hulle wat selfs ‘n tuinier borg, want met die aksie bly die grootste behoefte aan arbeid om die werk te kan doen.

Related Articles

Back to top button