News

Bewarea praat oor voorgestelde wysigings van die Waterwet en waterlisensies

Een van die grondliggende verskille tussen die Waterwet van 1998 en die wet van 1956 wat dit vervang het, is dat daar tot 1998 ´n verskil tussen private water (soos ´n boorgat op ´n plaas) en publieke water gemaak is.

Onkunde is geen verweer in die hof. Hierdie beginsel is algemeen bekend, maar tog ken min mense die besonderhede van die wette waaraan ons onderhewig is, in besonder die Waterwet van 1998. In ´n baie insiggewende en interessante aanbieding van die Bewarea op Woensdagaand 31 Mei by Egweni in Parys, het Robert Crosby, deskundige op die gebied van die Waterwet, verduidelik wat die implikasies van hierdie wet is.

Robert Crosby, deskundige op die gebied van die Waterwet, verduidelik wat die implikasies van hierdie wet is.

Die waterwet is tans in die nuus weens wysigings wat voorgelê is, en waarvoor die spertyd vir kommentaar binnekort verstryk.

Volgens die wysigings sal die toekenning van waterlisensies onder andere onderhewig wees aan 75% swart aandeelhouding, Maar ook die bestaande wet raak die meeste van die grondeienaars in die Koepel en omgewing op maniere waarvan nie almal bewus is nie.

Lisensies is byvoorbeeld nie net nodig vir die onttrekking van water – hetsy uit ´n boorgat, dam of rivier nie– maar ook vir enige aktiwiteit wat ´n invloed op water het, of kan hê, soos byvoorbeeld opgaar van water, versperrings in waterweë soos ´n pompstasie, of ´n gebetoneerde drif, wysi- gings van rivier- of spruitlope, en invoer van besoedelde water soos die afvalwater van ´n voerkraal.

Om vir enige van hierdie gebruike of aktiwiteite ´n lisensie te bekom, is meestal ondersteunende dokumentasie soos impakstudies en ontledings nodig, wat die koste van ´n lisensie vinnig kan opjaag.

Een van die grondliggende verskille tussen die Waterwet van 1998 en die wet van 1956 wat dit vervang het, is dat daar tot 1998 ´n verskil tussen private water (soos ´n boorgat op ´n plaas) en publieke water gemaak is.

Hierdie onderskeid geld nie meer nie. Alle water word as ´n nasionale bron beskou wat tot die voordeel van die land aangewend moet word en waarvan die staat die bewaarder is. Om water te gebruik, is dus toestemming nodig – sogenaamde waterlisensies. Daar is vier kategorieë waarvolgens watergebruik toegelaat word.

Die goeie nuus is dat in die eerste kategorie geen lisensie nodig is nie. Dit raak private gebruik, water vir diere tot die maksimum drakrag van die grond, of vir die kweek van gewasse vir nie- kommersiële doeleindes. Vir die opgaar van reënwater is ook geen lisensie nodig nie. Die tweede kategorie raak bestaande wettige gebruik voor 1998, toe die wet in werking getree het. Indien betyds vertoë gerig is, kon hierdie gebruik na oorweging goedgekeur word.

Die derde kategorie, die sogenaande Algemene Magtiging, raak watergebruik vir kommersiële doeleindes onder sekere drumpelwaardes, dit wil sê. as die verbruiksvolumes laag is, soos byvoorbeeld vir gastehuise of landbouproduksie op klein skaal. Daarvoor kan dus ´n algemene lisensie toegeken word sonder spesiale studies. Alle ander gebruike val in die vierde kategorie, en vereis ´n lisensie wat ´n voorlegging van die spesifieke aspekte van die gebruik vereis.

Tydens die aanbieding het dit gou duidelik geword dat die wet ´n groot impak het en meeste grondeienaars lisensies nodig het. Dit is ´n aspek wat byvoorbeeld by die aankoop van grond in gedagte gehou moet word, of wanneer enige nuwe onderneming gevestig word, omdat omtrent alle aktiwiteite op een of ander manier water gebruik.

Belangstellendes is welkom om die Bewarea vir meer inligting te kontak by admin@dome-conservancy.co.za.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button