News

Die lewe is té kort – lek die bak uit

'n Plantgebaseerde dieet beteken allermins dat jy nie lekker kan eet en jou kreatiwiteit in die kombuis op die proef kan stel nie. Van piekniek en braai, tot soetgoed kan jy met plantgebaseerde bestanddele, die smaaklikste geregte en peuselhappies berei.

André en Amanda Steenkamp van C & C Deli in Centurion het verlede week hul resepte en wenke vir ‘n gesonder plantgebaseerde leefstyl en kookkuns met Pa- rysenaars kom deel, en is die reeks van vyf werkswinkels wat gratis hier by die Sewende Dag Adventiste Kerk aangebied is, afgesluit met ‘n suurdeeg werkswinkel wat jou mond behoorlik laat water het met die reuk van vasgebakte brood en pita brode wat die aand hier gebak is.

Van die oondtemperatuur tot hoe die deeg gerol word is bespreek en prakties gedemonstreer. Tydens die week het Parysenaars selfs kon leer om Vegan kaas te maak.
Amanda en André is ewe vernuftig in die kombuis. Op 50 het Amanda boonop die uitdaging van ‘n Vegan TV sjefkompetisie aangepak en as wenner van die kompetisie weggestap. “Almal doen iets crazy op 50,” vertel Amanda as sy gesels oor haar bobaas pizza wat die beoordelaars se voete onder hul uitgeslaan het.


Sy is nie bang om te eksperimenteer in die kombuis nie en sal jy selfs ‘n waatlemoen koek en ‘n melktert met plantgebaseerde bestanddele op haar deli-rakke saam met ander watertand lekkernye kry.

Sy glo daaraan dat ‘n gesonde liggaam ‘n gesonde gees huisves en dat wat jy eet ‘n groot invloed op jou gesondheid en ook gemoedstoestand kan hê. Sy vertel dat wanneer jy na wêreldstatistiek kyk is Suid-Afrika net ‘n kortkop agter Amerika met gesondheidsuitdagings soos depressie, oorgewig en diabetes. Juis daarom is dit belangrik dat mense meer aandag sal gee aan dieet en beteken gesond eet beslis nie inboet op lekker eet nie. Die lewe is kort – lek die bak uit!

Related Articles

Back to top button