News

Bejaardes se slaggat-wens

Hierdie is jou kans om ons bejaardes te wys jy gee om met Tooi Turkoos-veldtog

So lyk die pad voor dieingang na Amot.

Vir ‘n maand lank, van 15 Mei tot 15 Junie, het Parysenaars soos mense elders in die land, kans om die dorp
turkoois te tooi om te wys ons gee om vir ons bejaardes. Een van die maniere hoe Parysenaars ‘n verskil kan maak vir
ons bejaardes is hulp met die herstel vanslaggate by die gedeelte van Tweedelaan
voor Amot se ingang.

Van die tehuis se bejaardes het vroeër graag hier saam met personeel gestap – iets wat weens die toestand van die pad
nie meer gedoen kan word nie.

Dié jaarlikse landwye Tooi Turkoois-veldtog wat ‘n NHSV-inisiatief is, het bewusmaking van bejaardesorg ten
doel. Vanjaar word elke tehuis, apteek, restaurant, gastehuis, hardewarewinkel, of watter besigheid of instansie jy ookal
by betrokke is, weer uitgedaag om die veldtog te ondersteun. Tooi jou winkel, restaurant, huis, kantoor of gastehuis met
turkoois lappe of strikke, of kry plakkate en linte by AMOT, Tweedelaan 15, Parys, om ook jou ondersteuning te wys.

Amot se matrone, Teresa Broodryk saam met drie van Amot se inwoners, Albert van Schalkwyk, Rita Hurter en Marianne Oelofse, voor die ingang na Amot. Die slaggate
in die pad maak dit bykans onmoontlik vir die bejaardes om hier te kan stap. Hul grootste wens is dat die pad reggemaak moet word.

Hoe kan jy help?
Jy kan jou tyd gee en gaan inloer by ons bejaardes. Eensaamheid is een van die grootste probleme waarmee bejaardes worstel. Jy kan van jou vaardighede gee om te help. Gereelde instandhoudingswerk is ook by tehuise vir bejaardes nodig, en is ‘n groot uitgawe.

Dalk kan jy jou hulp aanbied as nutsman, elektrisiën of loodgieter,of selfs help in ‘n tehuis se tuin as jy lief
is vir tuinmaak.

Dalk wil jy ‘n bederfpakkie met lekkergoed of toiletware opmaak vir van ons bejaardes, of ‘n bejaarde in ‘n tehuis naby jou ‘aanneem’ – iemand wat dalk nie kinders of familie naby het nie, en na wie jy kan uitreik.

Dalk wil jy ‘n finansiële bydrae vir ‘n tehuis van jou keuse maak. Daar is soveel maniere om jou omgee te wys waar jy is. Tehuise vir bejaardes trek swaar weens die effek wat Covid, en nou beurtkrag op die ekonomie het. Wys daarom ook jou
omgee en maak so ‘n verskil.

Die afgelope week het Danielle Lubbe reeds Amot se bejaardes kom bederf met haar getuienis en sang.

Dankie vir die besighede in Parys wat die veldtog ondersteun en so ‘n verskil maak.

As jy vrae het oor die veldtog skakel Teresa by 078 070 5200 of Amot by (056) 811 2185

Related Articles

Back to top button