News

Gemeenskap in rou na familieman se skielike dood

Die letters van sy maatskappy “LVO” is sy voorletters, maar dit staan ook vir Leef Voluit Onophoudelik – en dit is presies hoe Leon geleef het. Potchefstromers is ‘n week na die gesinsman en konstruksieboffin, Leon van Onselen (42), se afsterwe, steeds in skok en ongeloof.

Potchefstromers is ‘n week na die gesinsman en konstruksieboffin, Leon van Onselen (42), se afsterwe, steeds in skok en ongeloof.

Leon is op Woensdag, 17 Mei aan ‘n hartaanval oorlede.

Leon (gebore op 4 Desember 1980) was bekend as die eienaar van LVO Konstruksie vir die afgelope 15 jaar, waar hy en sy bekwame span talle kliënte met uitstaande konstruksiewerk bedien het. Sy warm en vriendelike persoonlikheid het ook getuig van hoe belangrik elke persoon was waarmee hy gewerk het.

Leon van Onselen sal onthou word as een van Potch se top kontrakteurs wie se persoonlikheid en medemenslikheid altyd uitgestaan het. Foto: Verskaf.
Leon saam met LVO Konstruksiespan wat hy suksesvol vir 15 jaar gelei het.

Die letters van sy maatskappy “LVO” is sy voorletters, maar dit staan ook vir Leef Voluit Onophoudelik – en dit is presies hoe Leon geleef het.

Buiten die passie vir sy konstruksie-roeping, het sy gesin en familie eerste plek ingeneem. Hy was ‘n familieman duisend wat ‘n hegte en liefdevolle band met sy vrou, Daleen en sy kinders, Johané (12) en Wilhelm (10) gehad het. Sy kinders is albei in Laerskool Mooiriver in graad 4 en graad 6.

Sy ouer sussie, Anné van Onselen, ‘n wyksraadslid in Potchefstroom, vertel hoe Leon voluit gelewe het en enig in sy soort was.

“Hy is een van min mense wat kan sê dat hy die meeste van sy emmerlys gedoen het. Hy het ‘n presence gehad. Daar is ‘n stukkie van hom wat bly voortleef in ontsettend baie mense se huise. Hy hét voluit geleef. Sy een vriend het dit mooi opgesom. Leon het 84 jaar in 42 ingepas,” noem sy.

Leon van Onselen saam met sy vrou Daleen en twee kinders Johané (Graad 6) en Wilhelm (Graad 4). Sy gesin was sy nommer een prioriteit.

Anné vertel ook hoe Leon se werknemers groot respek vir hom gehad het en dat hy die ekstra myl vir hul sou loop.

“Hulle kan getuig van baie, baie hard werk saam met Leon. Lang ure somtyds, maar ‘n beter werkgewer wat omgegee het vir elkeen, sal jy nie sommer kry nie. Hy het hulle gerespekteer, hulle werk gekomplimenteer en die beste in elkeen uitgebring,” sê sy.

“Hy het tydens die Covid-19 pandemie met daardie streng inperking sy groot vierkantige vrieskas tot bo volgepak met vleis en op sy bakkie gelaai saam met sakke vol groente dit by sy LVO-Manne gaan aflaai in Ikageng en Promosa sodat hulle en hulle gesinne versorg kon wees.”

Buiten Leon se talent om kombuise te bou het hy ook ‘n slag met heerlike kos gehad.

“Hy kon die heerlikste disse optower. Hy het die naam gimnasbroodjies (rolletjies met meel) uitgedink. Hy het ‘n skerp sin vir humor gehad,” vertel Anné.

Leon se sêgoed was ook legendaries wat baie menses al bybly: “Wat is lekker? Nou is lekker.”, “Net gou.”, “Hou gou vas.” “Ry gou saam,”, Net nog 5 min,” was van Leon se bekendste sêgoed.

Leon was ook tuis in die kombuis. Hy het die naam gimnasbroodjies (rolletjies met meel) uitgedink.

Leon is met ‘n gat in sy hart gebore en moes op 4-jaar oud vir ‘n opehart operasie gaan om die gat te herstel. Ten spyte van sy hartkondisie het hy aan vele Comrades Marathons deelgeneem, driekamp aangepak, rugby, krieket en gholf gespeel. Hy het ‘n paar jaar gelede ‘n pasaangeër gekry.

Leon was al van jongs af ‘n leier en was op beide Laerskool Concordia in Boksburg onderhoofseun en Hoërskool Hans Moore in Benoni was hy hoofseun.

Hy het ook talle hegte vriendskappe gehad en was nog beste vriende met sy Gr 2 vriend en graad 8 vriende.

Sy jonger broer, Cornel, vertel ook watter groot impak Leon op sy lewe gehad het.

“Boet, ek gaan jou 3:00 in die oggend boodskappe mis, jou Vrydae boodskappe mis, jou oproep amper elke dag mis. Jy was ‘n steunpilaar, ‘n mentor, ‘n raadgewer, ‘n voorbeeld en ‘n vriend duisend vir my en vir baie mense. Geniet jou finale, “Ek vat gou ‘n russie.”

Cornel som Leon se lewe op hierdie volgende treffende wyse vas:

“Dit is so dat ‘n man met die beste en mooiste hart, se hart hom in die steek gelaat het.

Dit is so dat die man wat altyd haastig lyk, tyd gemaak het vir sy naastes.

Dit is so dat die man wat so baie mense ken, hulle innig en persoonlik geken het.

Dit is so dat die man wie se woord sy eer is, se eer nou in ander se woorde is.

Dit is so dat die man wat kliphard kon werk ook tyd gehad het om kliphard te speel.

Dit is so dat die man met die harde stem, die sagste en vredeliewende woorde kon uitspreek oor sy medemens.

Dit is so dat die man wat lang ure van die huis af weg was, kwaliteit tyd gehad het en moeite gedoen het vir sy vrou en twee kinders.

Dit is so dat die man wat een van vyf kinders is, ‘n spesiale verhouding gehad het met elkeen van sy broers en susters.

Dit is so dat ek baie meer oor hierdie man, Leon, kan skryf, maar sal vir nou eers berus.”

Leon van Onselen se tyd op aarde is skielik kortgeknip, maar hy los ‘n langdurige nalentenskap met sy handewerk en menswees in Potchefstromers se huise en harte.

* Leon van Onselen se lewe word op Donderdag, 25 Mei om 12:00 by Duet Gemeente in Govan Mbeki-laan gevier.

Related Articles

Back to top button