News

Domino-effek van kragkrisis ook in die plaaslike bakbedryf gevoel

"Parys en sy mense was goed vir ons. Ons het wonderlike mense hier ontmoet."

Nog een van Parys se gevestigde besighede, die baie gewilde bakbenodigdhede winkel Koeksoda in Middelstraat, sluit einde Junie sy deure. Die effek van beurtkrag het ook die bakindustrie – veral klein tuisny- werhede en mense wat ‘n lewe uit tuisgebak maak, ernstig benadeel.

Die domino-effek daarvan is dat van Koeksoda se verskaffers hul deure moes sluit en verkope afneem, sê Thea Volschenk en Johann Grobbelaar.

Ons voorsien nie dat die situasie gou sal verbeter nie, sê hulle “daarom eerder vroeër as later die besluit maak.”

Johann en Thea het as vennote en jare- lange vriende dié winkel ses en ‘n half jaar gelede in Parys oopgemaak. ‘n Winkel waar die kerse altyd gebrand het – want sonder kleingeld kan jy wees, maar nooit sonder dankbaarheid nie, gesels Johann waar hy agter die toonbank staan, met die kersvlamme dansend op die kant van die toonbank.

“Parys en sy mense was goed vir ons. Ons het wonderlike mense hier ontmoet.” Mense wat sommer net ingeloer het om te groet of te gesels. Kliënte het van sover as Koppies, Frankfort, Kroonstad, Heilbron, Hennenman, Potchefstroom en Fochville gery vir die bakbestanddele wat hier in die kenmerkende Koeksoda verpakking verkoop is. Die rakke kunstig gepak met kleurvolle mannekyne wat gepronk het tussen bakpoeier, kakao, koeksoda en wat meer.

 

“Nie eens die Covid-pandemie het ons so geraak soos die effek van die kragkrisis nie, sê Johann en Thea. Inteendeel – dwarsdeur die Covid-pandemie het dit goed gegaan en kon hulle hul aflewerings doen. Teen November/Desember 2022 het die stygende brandstofprys en knaende beurtkrag al meer sy tol geëis. “Plaaslike besighede wat weens die ekonomie en kragkrisis gesluit het, was ook ons kliënte,” sê hulle.

Thea wat met haar geleentheidskoeke bygedra het tot ‘n gedeelte van die omset van die winkel, sal wanneer die winkel sluit voortgaan met haar gebak, maar Johann sê tyd sal leer wat die toekoms vir hom inhou.

As daar een ding is wat hul oor die jare met die winkel geleer het, is dit om almal te omarm – mense en besighede onderling in Parys, maar ook buite die dorpsgrense, want in hierdie tye moet ons mekaar ondersteun, goed wees vir mekaar – en by alles is kliëntediens die belangrikste. Hiervan sal elke Koeksoda-kliënt kan getuig.

Related Articles

Back to top button