News

Petisie oor water Vrydag oorhandig

Daar was teen Sondagoggend reeds meer as 6 000 handtekeninge op die petisievorms getel, en het Save Ngwathe inwoners wat teenwoordig wil wees met die oorhandiging van die petisie, genooi om môre, Vrydag 12 Mei om 09:45, by die parkeerarea voor Clicks bymekaar te kom. 

Die petisievorm oor die Ngwathe munisipaliteit se gebrekkige watervoorsiening aan sy inwoners, wat deur die drukgroep Save Ngwathe in die gemeenskap versprei is, sal môre, Vrydag 12 Mei om 10:00, aan die munisipale bestuurder oorhandig word. Sondag was die laaste dag wat mense uit die gemeenskap van Parys, Tumahole en Schonkenville die aanlyn of gedrukte petisievorm kon teken wat sedert middel April in die gemeenskap versprei is.

Daar was teen Sondagoggend reeds meer as 6 000 handtekeninge op die petisievorms getel, en het Save Ngwathe inwoners inwoners wat teenwoordig wil wees met die oorhandiging van die petisie, genooi om môre, Vrydag 12 Mei om 09:45 by die parkeerarea voor Clicks bymekaar te kom.

Save Ngwathe het met die verspreiding van die petisievorms gesê dat hoewel die drukgroep die inisiatief geneem het om die memorandum en petisievorm op te stel, dit ‘n gemeenskapsinisiatief is om inwoners se stem te laat hoor oor die toerismedorp se langdurige stryd met droë krane.

In die memorandum wat die petisievorm vergesel het, is vrae gevra oor die beloofde noodkragopwekker vir die dorp se watersuiweringsaanleg, asook die tydsraamwerk vir die daarstel van ‘n direkte kraglyn na die waterwerke.

Save Ngwathe het met die verspreiding van die petisievorm ‘n ernstige beroep op inwoners, besighede en selfs besoekers aan gastehuise wat deur die waterkrisis geraak word, gedoen om die vorm in te vul.

Naas die talle probleme by die watersuiweringsaanleg wat lank reeds nie meer in die behoefte van inwoners kan voorsien nie, veroorsaak jarelange swak bestuur, langdurige beurtkrag en knaende kragprobleme op die munisipale netwerk, sowel as kabeldiefstal, gebrekkige instandhouding, en werk wat deur ‘n kontrakteur gedoen word om kleppe te vervang en lekke reg te maak, voortdurende waternood.

  • ‘n Gemeenskapsvergadering gereël deur die Kanana Metsipompong groep word ook vanmiddag, 11 Mei om 17:00 agter Jackpot in Tumahole gehou waar die dorp se water- en kragkrisis en die pad vorentoe bespreek sal word. Die gemeenskappe van Tumahole en Parys is genooi om die vergadering by te woon.

Related Articles

Back to top button