News

Nuwe lewe wag dalk op verlamde Desiree na stamsel-operasie

"Ek kan nie presies onthou hoe die ongeluk gebeur het nie. My motorfiets het vooroor geslaan en ek het op my kop geland en my nek gebreek," sê Desiree.

Twee jaar en agt maande gelede was Desiree van der Westhuizen (35) van Vanderbijlpark nog ‘n energieke, lewenslustige jong vrou wat graag tyd in die buitelug deurgebring het. Dit was totdat ‘n fratsongeluk haar lewe in 2020 in een oomblik verander het en sy die toekoms as ‘n kwadrupleeg moes aandurf. Haar reis tot hier toe was nie maklik nie, maar die vooruitsig om binnekort ‘n stamseloorplanting te kry wat haar hopelik meer gebruik van haar ledemate sal gee, bring nuwe hoop vir dié dapper vegter.

Desiree, wat aan die Hoërskool Driehoek gematrikuleer en later ‘n diploma in Informasiestelsels-ingenieurswese behaal het, was voor die ongeluk ‘n juffrou by Kabouter Kampus Kleuterskool in Vanderbijlpark. Hier kon sy haar liefde vir kinders uitleef. Haar ander passie was motorfietsry en in 2014 het sy haar eerste ysterperd gekoop.

Op 22 Augustus 2020 het sy as deel van ‘n groep op vriende se hoewe met hul Scramblers gaan ry om ontslae te raak van die destydse Covid-stress. Min het sy geweet dat haar lewe dié dag onherroeplik sou verander.
“Ek kan nie presies onthou wat gebeur het nie. My mense sê net dit was iets wat hulle nooit weer wou sien nie. My motorfiets het vooroor geslaan en ek het op my kop geland en my nek gebreek. Daar was geen bloed of ander beserings nie, maar ek het dadelik besef daar was groot fout. Netcare het my na die Unie-hospitaal in Alberton gevlieg, waar bevestig is dat ek my nek op vlakke C6 en C7 gebreek het. Ek was 32 dae in die hoësorg-eenheid voor ek na die Netcare-rehabilitasiesentrum oorgeplaas is.

Sy het by ‘n kennis wat saam met haar in die rehabilitasiesentrum was, gehoor van ‘n dokter in Parys (Vrystaat) wat met stamselle eksperimenteer en navorsing doen. Sy het dadelik belanggestel en meer begin uitvind oor die behandeling.

“Daar was al ‘n paar suksesvolle stories oor stamselbehandeling uit die VSA en my opwinding was groot. Die enigste probleem was dat my medies dit nie dek nie en dit is baie duur. My eerste afspraak het R35 000 gekos, waartydens hulle my stamselle geöes het en ook die eerste behandeling toegedien het. Ek het oor ‘n tydperk van twee jaar vir vier behandelings gegaan. Na my tweede behandeling het ek verbetering begin toon, soos meer sensasie en meer onwillekeurige bewegings. Elke behandeling het in die omgewing van R20 000 gekos, maar danksy ‘n gholfdag, donasies en die hulp van my destydse verloofde kon ek dit bekostig,” sê sy.

Die volgende stap in die behandeling is ‘n direkte inplanting van stamselle op die area van haar besering in haar rugmurg. Omdat dit eksperimenteel is, is die dokters bereid om die prosedure gratis te doen maar die teater en hospitaalkoste moet steeds betaal word. Daar is ook hoë koste verbonde aan die kweking van die stamselle wat ingeplant moet word. Die voorlopige kosteberaming is in die omgewing van R50 000. Die dokters beplan om haar operasie in Mei te doen maar die datum is nog nie vasgestel nie. Desiree hoop en bid nou dat sy betyds genoeg fondse sal kan insamel om daarvoor te betaal.
Intussen hou sy haar besig met diamond dot-kunswerk en die bou van 3D-legkaarte, wat terselfdertyd goeie handoefeninge is.

Sy het ook een van haar terapeute se boekhouding behartig totdat dié uit die Vaaldriehoek verhuis het. Hoewel Desiree en haar verloofde se paaie in 2022 geskei het, steek sy nie vas by die verlede nie maar fokus as alleenloper op haar herstelproses. Sy word hierin bygestaan deur haar jonger suster, Belinda, en hul ouers, Cas en Sina van der Westhuizen, by wie sy in Vanderbijlpark inwoon.

“Ek is maar die vierde pasiënt in Suid-Afrika wat die eksperimentele stamseloorplanting in die spinale koord gaan kry en ons weet nog nie wat die uitkoms gaan wees nie, maar ek is gereed vir die fight. Ek staan sterk in my geloof en het baie ondersteuning. Ek kry soms boodskap van mense wat my herinner dat ek ‘n sterk mens is en dat hulle weet ek sal nie opgee nie. Dit beteken baie vir my,” sê sy.
* Mense wat ‘n bydrae wil maak om Desiree se operasie moontlik te maak, kan ‘n EFT-inbetaling doen aan D. VDWesthuizen, Capitec spaarrekening: 1858686936.

Desiree van der Westhuizen (35) op haar motorfiets voor die ongeluk wat haar in 2020 verlam gelaat het.
Desiree van der Westhuizen (35).
Nadat Desiree verlam is, woon sy by haar ouers, Cas en Sina van Westhuizen van Vanderbijlpark, wat haar met haar versorging bystaan. 

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button