News

Voormalige Herald-joernalis en bekende mediaman oorlede

De Jager se gereelde rolbalberigte in Parys Gazette sal gemis word. Hy was vir dekades deel van die Potchefstroom Herald se redaksiespan as vryskutjoernalis en was wyd bekend in Noordwes mediakringe as 'n gerekende sportskrywer en mediaman.

Die welbekende koerantjoernalis en radio-omroeper, Piet de Jager (69) is op Donderdag (20 April) aan ‘n hartaanval oorlede.

De Jager was vir dekades deel van die Potchefstroom Herald se redaksiespan as vryskutjoernalis en was wyd bekend in Noordwes mediakringe as ‘n gerekende sportskrywer en mediaman. Hy het ook vryskutwerk vir Beeld, Rapport en RSG gelewer. Verder was hy ook ‘n atletiekkommentator en werksaam by die NWU as sportkorrespondent, onder andere.

Piet de Jager was bekend vir sy skryfwerk en skerp kennis van sport.

Hy was bekend in Potch as “Piet Koerant”. Hy het vanaf 1998 tot en met 2019 gereeld artikels vir die koerant bygedra. In die laaste vier jaar van sy lewe het hy steeds berigte vir die Herald geskryf veral oor rolbal en gholf.

Hennie Stander, voormalige redakteur van die Potchefstroom Herald, noem dat De Jager ‘n goeie vriend en getroue kollega was, wat altyd lojaal teenoor almal saam met wie hy gewerk het, was.

“In sy tyd as korrespondent het hy deel van ons span joernaliste geword. Sy ondervinding as ouer persoon in die span en sy mensekennis was baie waardevol. Ons het goeie vriende geword. Ek het ‘n paar keer saam met hom op sy plaas gaan kuier,” vertel Stander.

Hy noem ook dat De Jager altyd bereid was om uit te help as die nood gedruk het.

“Wat skryfstyl en korrekte gebruik van taal betref kon menige jong verslaggewer baie by hom leer,” meen Stander.

Piet het ten tyde van sy afsterwe by Overvaal Stereo gewerk waar hy bemarking gedoen het. Hy het ook sportprogramme op hierdie radiostasie as vryskut-omroeper aangebied.

Piet de Jager, ‘n legende in die plaaslike media en voormalige Herald joernalis, is op Donderdag, 20 April oorlede. Foto: Verskaf.

Hy het saam met sy vrou, Joey, op Vierfontein gewoon. Hulle was 17 jaar getroud.

“Hy was baie bedagsaam en ‘n baie goeie man vir my. Hy het my rustig gehou,” vertel Joey.

Related Articles

Back to top button