News

‘Beurtkrag vrystelling vir waterwerke is moontlik’

Die kwessie is opgehaal tydens 'n vergadering van die Ngwathe Infrastruktuur Komitee wat verlede week in Heilbron gehou is.

Vrystelling van die striemende effek van beurtkrag vir die Parys watersuiweringswerke is moontlik. So sê Vryheidsfront Plus raadslid, Phillip van der Merwe.

Hy het die kwessie opgehaal tydens ‘n vergadering van die Ngwathe Infrastruktuur Komitee wat verlede week in Heilbron gehou is.

Die vergadering is ook deur Ngwathe se nuwe gesekondeerde munisipale bestuurder, mnr. T. Ngesi, bygewoon.

Verskeie lopende- en nuwe infrastruktuur projekte was op die agenda vir oorweging.
Op ‘n vraag van raadslid Van der Merwe het die bestuurder van die elektristeitsafdeling, mnr Henk Coetzer, verduidelik dat dit nodig sal wees om ‘n toegewyde kraglyn aan te lê na die werke vir vrystelling van beurtkrag.

Hy beraam dat dit sowat R5 miljoen sal kos. Die huidige toevoerlyn loop deur ‘n oop veld en dele daarvan word gereeld deur kabeldiewe gesteel wat ook al op sekuriteitsbeamptes geskiet het in die area, is gesê.

As oplossing vir die diefstalprobleem word beoog om ‘n oorhoofse kraglyn te bou wat minder kwesbaar sal wees.

Volgens Coetzer word daar tans gepoog om dringend eksterne befondsing vir die projek te bekom.

Die komitee het versoek dat prioriteit aan dié projek en enkele ander gegee word, waaronder beveiliging van die kragnetwerk om die veiligheid van werkers te verseker.
Ook die voortslepende waterprobleme in Koppies en Vredefort het aandag gekry, sê raadslid Van der Merwe.

Koppies se watersuiweringswerke is vroeër opgradeer teen ‘n koste van R25,6 miljoen om voorsiening te maak vir groter kapasiteit vir Koppies, en ook om gesuiwerde water via ‘n pyplyn aan Edenville te voorsien. Hoewel die werke dus in Koppies se behoeftes moet kan voorsien, is die probleem dat toevoerlyne vervang moet word en aanvullende reservoirkapasiteit voorsien moet word, het Ngwathe se tegniese direkteur, mnr. Malunga gesê.

R12 miljoen is in die huidige boekjaar daarvoor begroot, maar die proses is vertraag omdat Nasionale Tesourie ‘n moratorium op die toekenning van tenders geplaas het weens ‘onwettigheid’ van sekere bepalings in wetgewing wat die terme van die voorkeurverkrygingsvoorwaardes gewysig het. Daar moet nou gepoog word om dringend verlore tyd in te haal.

Die Vredefort watersuiweringswerke was ook in vorige boekjare ter sake. ‘n Projek ter waarde van R22,4 miljoen was goedgekeur vir die opgradering van die werke (sonder uitbreiding van die kapasiteit daarvan), asook vir verbetering van die onttrekkingspunt by die Vaalrivier met pompe en ‘n pompstasie.

Die projek was nie suksesvol nie en het die kontrakteur nie sy werk voltooi nie.
Die projekraadgewer se beplanning by die onttekkingspunt het boonop ook nie voldoende voorsien vir slik nie, en ontoe- reikende pompe is vir die doel aanbeveel.

Daar is ook vrae oor die kapasiteit van ‘n kragopwekker wat vir die projek aangekoop was. Hierbenewens is daar aan die kontrakteur voorskotte gemaak wat hy skynbaar wanbestee het, en word die projek tans deur die spesiale ondersoekeenheid (SIU) ondersoek.
‘n Bedrag van sowat R2,5 miljoen word benodig om die projek te finaliseer en die komitee beveel aan dat fondse dringend daarvoor bekom word.

Daar was ook ‘n verdere projek van R7,6 miljoen as dringend voorgestel om die oorblywende probleme met die vorige projek op te los en om die kapasiteit van die werke effens te vergroot. Fondse vir dié projek sal in die 2023/24 boekjaar gevra word.

Ten einde voldoende water vir Vredefort se behoeftes op die mediumtermyn te kan suiwer en voorsien, word nog R27,5 miljoen benodig. Dit sal egter eers in die 2024/25 of ‘n latere jaar aangespreek kan word.

“Ngwathe beskik tans nie oor enige interne fondse waaruit selfs kleiner kapitaalprojekte gefinansier kan word nie en is totaal afhanklik van toekennings uit staatsfondse daarvoor” sê raadslid Van der Merwe.

Related Articles

Back to top button