News

Dankbaarheid vir gebreide boesems

Nie almal kan borsrekonstruksie bekostig nie.

Toe die Boesemvriendinne eers begin het om die breinaalde uit te haal, was daar geen keer aan hulle nie. Meer as as 4 000 borsprosteses is nou al met Solidariteit Helpende Hand se Boesemvriendinne-projek vir vroue met bors- kanker gebrei. “Helpende Hand se FroueVonds het die Boesevriendinne-breiprojek in Mei verlede jaar in samewerking met die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) begin. In 2021 kon hulle met die hulp van ondersteuners van die projek, reeds 1 421 wolprosteses insamel. “Ons is trots daarop om te sê dat ons vanjaar danksy bykomende ondersteuning reeds vir 2 722 prosteses kon sorg,” sê René Roux, adjunk-uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand en projekbestuurder van die FroueVonds.

Die FroueVonds is deel van Helpende Hand en is in 2019 gestig om vroue te bemagtig. Die naam is met opset verkeerd gespel om te beklemtoon dat alles nie altyd reg verloop nie. Borskankermaand word jaarliks in Oktober gehou om die publiek bewus te maak van dié siekte. As deel van borskankerbewusmaking het Helpende Hand verlede Donderdag van die gebreide prosteses aan Kansa by hul hoofkantoor in Pretoria oorhandig. Anina Meiring, ‘n bestuurder van Kansa en ook ‘n borskankeroorlewende, het die geleentheid bygewoon. Meiring het op 36-jarige ouderdom albei haar borste weens kanker verloor. Sy self gebruik van die gebreide prosteses en help aktief om dit op grondvlak onder pasiënte te versprei. Sy sê: “Dit is reeds erg as ‘n vrou hoor sy het kanker. Om dan nog te moet hoor jy moet ‘n mastektomie kry, maak alles net veel erger.

Borste is deel van ‘n vrou se lewe en seksualiteit, en as dit ewe skielik net weg is, is dit geweldig traumaties. Nie almal kan borsrekonstruksie bekostig nie. “Silikoonprosteses het hulle plek en tyd, maar dit is swaar en warm en ongemaklik,” skerts sy. “Daardie gebreide outjies werk wonderlik. As ek pajamas dra, steek ek dit vas met ‘n speldjie en kan lekker gemaklik voor my gesin rondloop. Ek swem selfs daarmee. Ek gebruik dit soveel as wat ek kan.” Meiring het gesê sy wens die publiek kan die uitdrukking op vroue wat hul borste verloor het se gesigte sien as hulle ‘n stel gebreide prosteses ontvang.

“Ek kan julle waarborg hierdie boesems is lewensveranderend vir ‘n vrou. Namens al die pasiënte wat al gehelp is, sê ek baie dankie aan almal wat op ‘n manier hierby betrokke is,” het Meiring gesê. Boesemvriendinne is dan ook ‘n deurlopende projek en sê Roux sy hoop om volgende jaar in Oktober meer as 4 000 van die ‘gemaklike en relatief goedkoop’ bors- prosteses aan Kansa te kan skenk vir vroue wat ‘n mastektomie ondergaan het. “Pakkette bestaande uit ‘n brei- of hekelpatroon, die spesiale wol en vulling word teen R60 per pakket aangekoop en onder Helpende Hand se vrywilligers versprei. Om dié pakkette te finansier, het Helpende Hand met USN hande gevat en veelsydige, interessante Sox Footwear-sokkies begin verkoop. Finesse Voelgoed het ook ‘n aansienlike bedrag geld geskenk wat tydens hul Fliekaand in Pajamas ingesamel is,” het Roux gesê. Sy het mense aangemoedig om aan te hou brei of die breiers te ondersteun deur vir hulle van die pakkette aan te koop. Besoek gerus www.boesemvriendinne.co.za vir meer inligting

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button