News

Ses jaar na fratsongeluk: ‘Ek dank die Here steeds vir my lewe’

“As ‘n mens na die enorme skade aan die wrak kyk, is dit niks anders as ‘n wonderwerk dat Bennie nie baie erger beseer is nie - om nie eers daarvan te praat dat hy oorleef het nie,” het een van die nooddienswerkers agterna aan die Gazette se susterkoerant Vaalweekblad gesê

Vir Bennie Henning, ‘n dieselingenieur van die Vaaldriehoek, is die gebeure van 13 Mei 2016 vir altyd uit sy geheue gewis, maar paramedici van ER24 wat daardie nag op diens was, praat steeds oor daardie fratsongeluk asof dit gister gebeur het…

Bennie was omstreeks 02:00 die nag vanaf sy werk in Kemptonpark na sy huis in die Vaaldriehoek onderweg toe hy vermoedelik aan die slaap geraak en met sy maatskappybakkie van ‘n brug op die R59 in Vereeniging afgery het. Die voertuig het sowat sewe meter geval en op die hoek van Genl. Smuts- en Springboklaan in die middel van die pad gelê. Vereeniging se strate is daardie tyd van die nag doodstil en dit was eers ure later dat motoriste die wrak gesien en die ongeluk aangemeld het.

Met die paramedici se aankoms het hulle nie verwag om enigiemand lewend in die verwronge wrak te vind nie, maar hulle was verkeerd. ‘n Erg beseerde en bewustelose Bennie het steeds ‘n pols gehad en verbete aan die lewe vasgeklou.

Terwyl nooddienswerkers nog besig was om hom uit die wrak los te sny, het paramedici reeds met lewensondersteunende behandeling begin. Hy is in ‘n kritieke toestand met ‘n gebreekte linkersleutelbeen, ‘n gebreekte regterbeen sowel as verskeie gebreekte ribbes in Mediclinic Emfuleni opgeneem. Hy het ook inwendige beserings en diep snywonde aan sy kop en been opgedoen en is aan lewensondersteunende masjiene gekoppel.

Omdat Bennie in ‘n maatskappyvoertuig gery het, is sy baas eerste deur die nooddienste geskakel, waarna sy vrou, Karen, van die ongeluk in kennis gestel is. ‘n Lang pad na herstel het vir Bennie en sy baie gelowige gesin begin. Hulle kon nie ophou dankie sê dat hy leef nie. Sy dogter Nicola, wat destyds ‘n tiener was, het aan Vaalweekblad gesê hulle glo hul pa is net deur God se genade vir hulle gespaar.

Hoewel Bennie vele littekens oorgehou het en nog dikwels pyn verduur, kyk hy en sy gesin na ses jaar steeds met opregte dankbaarheid terug.

“Ek sou nooit ooit hier gewees het as dit nie vir Jesus se genade en bewarende hand was nie. Tot vandag nog as ek oor die brug ry, dank ek net daar en dan die Here,” sê Bennie.

Bennie Henning vandag. Hoewel hy nagevolge van die ongeluk oorgehou het en soms nog baie pyn verduur, is hy ‘n dankbare getuie dat God sy lewe gespaar het.

Die wrak van Bennie Henning se voertuig waar dit onder die brug op die hoek van Genl. Smuts- en Springboklaan, Vereeniging, in die pad te lande gekom het.

 

 

Bennie is in ‘n kritieke toestand hospitaal toe geneem.

 

Foto bo: Bennie Henning tydens sy opname in die hospitaal.

Bennie Henning vandag: Hy dank die Here dat sy lewe gespaar is, elke keer wat hy nou oor daardie brug ry.

 

Lees hier die oorspronklike berig op die Vaalweekblad se webwer

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button