News

Parysenaar kry spreekbeurt by wêreld navorsingskonferensie

Dié naweek klim Herman le Roux, op die vliegtuig Portugal toe, waar hy ‘n voorlegging by ‘n wêreldkonferensie vir navorsers sal doen oor ‘n artikel wat hy geskryf het vir sy Honneursgraad-studie in Rekenaarwetenskap en Inligtingstegnologie. Die artikel handel oor neurale netwerke en die toepassing van kunsmatige intelligensie vir die klassifisering van uitbarstings op die …

Dié naweek klim Herman le Roux, op die vliegtuig Portugal toe, waar hy ‘n voorlegging by ‘n wêreldkonferensie vir navorsers sal doen oor ‘n artikel wat hy geskryf het vir sy Honneursgraad-studie in Rekenaarwetenskap en Inligtingstegnologie. Die artikel handel oor neurale netwerke en die toepassing van kunsmatige intelligensie vir die klassifisering van uitbarstings op die son.

Herman wat self nog skaars die eer wat hom as student te beurt geval het kan glo, is deur die International Association for Deve- lopment of the Information Society genooi na die 19de International Conference on Applied Computing. Die konferensie vind plaas van 8 tot 10 November.

Dié jongman van Parys het rede om trots te wees! Uit sy Honneurs studiegroep van sowat 30 studente, is net 3 studente deur die universiteit gevra om artikels te skryf vir die konferensie Die artikels word dan deur drie onafhanklike professore van verskillende universiteite oor die wêreld nagesien en terugvoer gegee. Die kommentaar op Herman se navorsingsartikel was baie positief. Vir bykans ‘n jaar het hy data versamel en navorsing gedoen oor dié onderwerp waar-oor daar tans nog geen toepassingsstelsel van kunmatige intelligensie is om klassifisering van die sonsuitbarstings te doen nie.

Herman verduidelik dat daar ook heelwat fisika beginsels in sy navorsing is, en vertel dat daar hoofsaaklik vyf tipes uitbarstings op die son is. Hy het vir sy navorsing hoofsaaklik op 2 tipes uitbarstings gefokus. Die uitbarstings is gekoppel aan gebeurtenisse wat as sogenaamde sonvlamme beskryf word. Die sonvlamme en koronale massa-uitwerping gebeur gewoonlik as gevolg van ‘n proses wat magnetiese heraansluiting genoem word.

‘n Eenvoudige verduideliking vir die proses is dat die magnetiese ‘toue’ van die son knoop, sê Herman. As gevolg van spanning sal die ‘knope’ dan soms breek en lei tot uitbarstings op die son. Die uitbarstings is ook een van die oorsake van die baie bekende aurora ligte. In baie erge gevalle kan hierdie uitbarstings koordlose netwerke negatief affekteer Die idee vir sy studie kom van sy studieleier, prof. Günther Drevin, wat saam met Herman vlieg. Naas die groot taak wat op Herman wag in Portugal, moet hy ook op die 10de onder die wakende oog van prof Drevin in Portugal sy eksamenvraestel vir Besluit Steun Stelsels skryf. Naas studie was daar nie vanjaar baie tyd vir ontspan nie, maar wanneer hy wel tyd kon afknyp weg van die boeke het Herman gedraf of videospeletjies gespeel

Herman was al van skooldae ‘n veelsydige uitblinker by Parys Primêre skool, en later ook by Potchefstroom Gimnasium. Hy het Inligtingstegnologie tot matriek as vak gehad, maar vertel dat dit einlik sy pa, Jan, was wat kleintyd sy belangstelling in die wêreld van rekenaars geprikkel het.

Na skool het hy BSc It studeer. “Jy sal verbaas weet wat jy alles met ‘n rekenaar kan doen,” gesels Herman. Hy het nooit verwag dat so ‘n groot geleentheid so gou oor sy pad sou kom nie, maar hy sien baie uit – “ek is bevoorreg”

Related Articles

Back to top button