News

‘n Ma se pad na herstel na baba se grudood

Om 'n kind aan die dood af te staan is een van die mees hartverskeurendste ondervindings waardeur enige iemand kan gaan. Michelle van Schalkwyk moes leer om weer met haar lewe aan te gaan na die dood van haar Shelby.

Shelby was ‘n blou-oog vonkelkind. Op 14 maande was sy haar ma, Michelle van Schalkwyk van Vereeniging, se mini me. Die twee was onafskeidbaar en het hul eie liedjie gehad. Pink van Aerosmith.

Michelle van Schalwyk met ‘n foto van baba Shelby. Foto: Gerda Bruinette

Sy het ook ‘n ouer boetie gehad. Alles het goed gegaan, tot 4 Januarie 2020. Michelle is die oggend werk toe. Die kinders se pa het soos gewoonlik na die kinders gekyk.

Minder as twee ure later is Michelle se lewe uitmekaargeruk. Sy het die nuus ontvang dat haar Shelby dood is.

Wat presies daardie oggend gebeur het, weet sy tot vandag nog nie. Die polisie het dit afgemaak as ‘n ongeluk. Wat by haar spook is die toneel waarop sy by die huis afgekom het.

Haar blou-oog baba het ‘n grudood in haar bababedjie gesterf. “My kind was verkool. Al wat nie gebrand het nie, was haar doek,” onthou sy daardie verskriklike dag.

Dit het haar twee jaar en nege maande geneem om oor Shelby te praat. Nie oor wat gebeur het nie. Nie om te blameer nie. Nie om ‘n antwoord op al die hoekoms en die waarom te kry nie, maar om vir mense te sê daar is hoop.

“Die verlies van ‘n kind is die mees traumatiese ding waardeur ‘n ouer kan gaan. Ek weet nou nog nie hoe ek staande gebly het nie. Ek weet wel ek sou dit nie sonder die hulp van die Here kon regkry nie. Ek wil hê die mense moet weet waardeur jy kan gaan as die Here aan jou kant is,” beduie sy. Die trane vlak.

Van die ongeluksdag kan sy nie veel onthou nie. Net maar die beeld van haar baba se lykie wat in haar brein vasgebrand is.

“Ek wou nie hê iemand anders moes haar so sien nie. Nie eers my ma nie. Ek het ook gesê niemand mag op Shelby se begrafnis swart aantrek nie. Daar was baie daisies en ballonne,” onthou Michelle tussen die trane deur.

“Ek het gedink ek kan nie sonder haar lewe nie. Ek was vir een dag kwaad vir die Here, maar daarna het ek besef dis die Heilige Gees alleen wat my regop hou.

“Ek weet nie wie het dit oorspronklik gesê nie, maar ek het volgens die motto begin leef: ‘You don’t know how strong you are, until strong is your only choise.’

Daarna moes sy ‘n gebroke verhouding verwerk, asook baie skinderstories aanhoor. “Ek het weke lank net voor my gestaar en gehuil.”

Uiteindelik het sy by ‘n berader uitgekom wat verstaan het. Wat haar gehelp het om weer regte keuses te maak, om op te staan en aan te gaan.

“Ek het besef ek het twee keuses. Of ek gaan lê, of ek staan op en besluit wat ek daarmee gaan doen. Ek het besef niks kan my kind terugbring nie, maar ek het nie gaan lê nie. Ek moes ook voortgaan ter wille van my seuntjie,” en die gedagte aan hom laat ‘n glimlag deurbreek.

“Ek mis Shelby steeds baie, maar my lewe moet aangaan. Daar is ‘n rede hoekom ek nog hier is. Baie dae moet ek myself forseer, maar ek glo mens leer uit jou verlies. Klein Shelby het soveel mense se lewens aangeraak.”

Vir ander wat ook ‘n kind se dood moet verwerk het sy ‘n spesiale boodskap: “Daar is lewe na verlies. Vandag weet ek: “You can’t grief without God.”

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig op die webwerf van die Herald se susterkoerant Vaalweekblad:

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button