News

Toe dra hulle wraggies weer weg, net voor die groot skoonmaak

Dankie vir almal wat vandag kom help skoonmaak het

Net voordat vrywilligers vanoggend weer sou begin om die museum en museumterrein skoon en netjies te maak het boosdoeners Vrydagnadag 21 Oktober, sowaar weer groot skade aan die museumgebou aangerig toe van die hout van die stoepdak gesteel is.

Kyk net die skade wat Vrydagaand weer by die Parys-museum aangerig is.
Dit is nodig om die museum ook hier te omhein om die kwaadwillige beskadiging van die historiese museumgebou stop te sit.

Die skade wat haweloses en misdadigers aan die museumgebou aanrig, was juis die rede waarom die museum destyds danksy hulp uit die gemeenskap omhein is.

Maar die inbraak het nie ‘n demper op die gees geplaas waarmee lede van die Vredefort/Parys Kultuurwerke vanoggend met mening ingespring het om hier tyd te spandeer om die museum netjies en skoon te kry.

Oud en jonk van die Voortrekker Vaaloewer Kommanodo, Knipoog Tuindiens, die FAK, AfriForum, Security Master, Gert Bezuidenhout wat die museum se sekuriteitswag is, en Udolpho wat helpers gestuur het, het fluks gehelp om die museumtuin netjies te maak, draad te span by die omheining, binne die museum skoon te maak en ook die museumgronde skoon te kry. Daar is selfs ‘n spekboom geplant. Dit was ‘n spanpoging wat aan die einde van die dag beloon is met heerlike worsbroodjies en koeldrank wat deur die FAK geskenk is.

Dankie aan elkeen wat vanoggend sonder vergoeding hier hul tyd opgeoffer het vir hierdie kosbare juweel van die dorp.

As jy enige boumateriaal of verf het wat rondlê waarvoor jy nie meer nut het nie, skakel asb vir Jan Danie Malan by 082 9655 7002.

Onthou ook dat die museum oop is vir die publiek op bespreking. Skakel gerus vir Horst Muller by 083 348 7820

Related Articles

Back to top button