News

Sluiting van bekende dokterspraktyk die einde van ‘n era

Dié dokters was dekades lank so deel van Sasolburg soos Sasol self. Die dorp se mense gaan hulle beslis mis

SASOLBURG. – Na dekades van samewerking het die einde van ‘n era op 27 September vir drs. Johan Fritz, Helmut Loest en Chris Erasmus aangebreek toe hulle die deure van hul mediese praktyk gesluit het.

Dr. Loest het in 1972 by drs. Fritz en Verwoerd in Sasolburg aangesluit. Hulle het daarna ‘n tyd lank apart gepraktiseer totdat drs. Fritz en Loest ‘n paar jaar later ‘n tweemanpraktyk uit ‘n huis in Sasolburg geopen het. In dié tyd het hulle ook die distriksgeneesheerpos gedeel. Omstreeks 1980 het hul spreekkamers na die Trustbankgebou verhuis, waar die praktyk saam met dr. Erasmus voortgesit is. Hul kamers is mettertyd na die besigheidspark in N.J. van der Merwesingel verskuif.

In die opvolgende dekades het die drie dokters byna legendaries en so deel van Sasolburg se geskiedenis soos Sasol self geword. Honderde hartroerende afskeidsboodskappe van dank en waardering is sedert die bekendmaking van die praktyk se sluiting deur hul voormalige pasiënte op Facebook geplaas. Sommige inwoners was reeds van die beginjare af pasiënte en in baie gevalle was derde en vierde generasies ook steeds deur die drie dokters behandel.

Al drie word deur hul pasiënte en oudpersoneel as knap en toegewyde dokters met harte van goud beskryf, wat deur die jare in tye van vreugde en verdriet by hul pasiënte gestaan het.

Dr. Fritz sê hy kyk met dankbaarheid terug na sy 50 jaar in die Vaaldriehoek. “Dit was ‘n voorreg om saam met Helmut en Chris te praktiseer. In die 46 jaar wat ons saam was, het ons nooit een rusie gehad nie. Die liewe Heer was goed vir ons en ek dank Hom daarvoor,” sê hy.

Vir dr. Loest was dit ook ‘n groot voorreg om by Sasolburg se mense, van wie sommige al 50 jaar pasiënte was, betrokke te kon wees. “Ons gaan hulle baie mis,” sê hy. Dr. Loest, wat in die afgelope jare sewe heupvervangingsoperasies ondergaan het, sterk nog aan nadat hy in April vanjaar ‘n ernstige gesondheidsterugslag gehad het.

Dr. Erasmus verhuis nou saam met sy vrou Louise na Springbok om nader aan hul dogter, Karlien Goosen en haar gesin, te wees.

Karlien sê sy onthou hoe sy as kind van omtrent 6 jaar oud, saam met hul gesin opgewonde was elke keer as haar pa hospitaal toe moes gaan om ‘n baba te gaan “vang”, en hoe hulle altyd vooraf gewed het oor die geslag van die kleinding.

“Ek het die hospitaalgange so ‘n bietjie geken en het altyd welkom gevoel by die spreekkamer met die fantastiese personeel wat so goed saam met die dokters gewerk het. Ek vermoed die drie dokters met hul omgeeharte en mooi persoonlikhede gaan ‘n verskriklike leemte in Sasolburg laat. Mag hulle elkeen se lewenspad vorentoe lank en geseënd wees – vol liefde, gesondheid en voorspoed,” sê sy.

Dr. Johan Fritz

Dr. Helmut Loest.

Dr. Chris Erasmus.

Drs. Erasmus en Fritz saam met ‘n paar van hul personeellede.

Drs. Johan Fritz (sittend voor) en Chris Erasmus by dekades se papierwerk en lêers van die praktyk. Pasiënte het tot 26 September tyd gehad om hul lêers te gaan afhaal, waarna onopgeëiste lêers volgens wet vernietig moes word. Foto: Nicky Pretorius

Related Articles

Back to top button