News

Boer Hennie behou sy erfplaas danksy lesers se hulp

Danksy die gemeenskap is genoeg geld ingesamel dat Hennie sy erfplaas na sy naam kan oordra!

Die boeregesin van die plaas Klipkop, sowat 30 km buite Vanderbijlpark, se beker van geluk loop oor nadat genoeg geld ingesamel is om hul erfplaas te red.

Die Herald se susterkoerant Vaalweekblad van 21 September het berig oor die melkboer, mnr. Hennie Malan (46) en sy susters, Trientjie en Malanie, wat gevrees het dat hulle hul erfplaas gaan verloor omdat hulle nie die nodige fondse gehad het om die plaas op Hennie se naam oor te dra na hul moeder se afsterwe in Augustus nie.

As enigste seun het Hennie die plaas by sy oorlede ma geërf, maar hy het met ‘n skok by die eksekuteur verneem dat hy R73 197 sou moes neersit om vir die oordragskoste te betaal.

Hennie, ‘n flukse kleinboer wat ‘n lewe maak deur melk, eiers en braaikuikens in sy omgewing te verkoop, het nie dié soort kontant gehad nie. Hy kon daarin slaag om R40 000 bymekaar te skraap maar het gou besef dat hy onmoontlik nie die oorblywende R33 197 sou kon bykom nie.

Nadat Vaalweekblad oor die gesin se penarie berig het en dit ook op ons webwerf en Facebook geplaas het, het lesers mildelik uit alle uithoeke van die land begin bydra. Die aanlynberig het meer as 420 000 lesers op Vaalweekblad se amptelike Facebook-nuusblad bereik. Donasies is selfs van Suid-Afrikaners in die buiteland ontvang. Een donateur wat anoniem wil bly, het ‘n hele R10 000 geskenk, wat die fonds ‘n groot hupstoot gegee het. Die goeie nuus is dat die Malans se mikpunt verlede week bereik is en dat genoeg geld ingesamel is om vir die oordragskoste te betaal.

“Ons is verstom, bewoë en bly oor hoe mense hul harte vir ons oopgemaak het. Dit was soos wanneer jy besig is om ‘n kraak in ‘n muur toe te maak. Elke skeppie, groot of klein, wat jy vat om die kraak op te vul, maak dit toe. Ons is opreg dankbaar teenoor almal wat soos engele gehelp het dat ons die nodige fondse bymekaar kon maak,” sê ‘n verheugde Hennie.

Die Malan-sibbe, Hennie, Malandie en Trientjie, ‘n paar jaar gelede saam met hul moeder, mev. Ria Malan, wat in Augustus vanjaar oorlede is.

 

Hennie Malan en sy susters Malanie en Trientjie van die plaas Klipkop buite Vanderbijlpark, kan weer breed glimlag omdat hul erfplaas danksy skenkings van goedhartige lesers, in hul besit gaan bly.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button