News

Waternood in Vredefort ook: Antwoorde nodig

Gazette het reeds in April vanjaar berig dat die projek waarmee die watersuiweringswerke in Vredefort opgegradeer is, volgens die raadgewende konsultante vir die projek, weens ‘n gebrek aan fondse nie afgehandel kon word nie.

Tydens ‘n vergadering van MPAC, ’n staande komitee van die Ngwathe Raad, het DA-raadslid, Arnold Schoonwinkel verlede Donderdag aangedring op ‘n volledige verslag oor die omstandighede rondom die onvoltooide ‘sogenaamde vernuwing’ van Vredefort se wateraanleg.
Ook in dié dorp en die Mokwallo-woonbuurt frustreer droë krane inwoners reeds meer as ‘n jaar lank.
Tydens oorsigbesoeke aan die aanleg is verskeie probleme uitgewys. Daar is vrae oor skynbare beplanningsfoute soos waarom water nie per pypleiding aan sekere nuwe erwe voorsien word nie, en nou ten duurste per tenkwa voorsien moet word. Dan is daar ook vrae oor onvoltooide werk, gebrekkige prosesbeheer, swak herstelwerk, onvoldoende toesig en ‘n gebrek aan toerusting.
Selfs sekere chemiese reinigers word ongeberg aan weer en wind blootgestel, sê rdl. Schoonwinkel.
Die kwelvrae is drie maande gelede by Ngwathe se Tegniese Direkteur ingedien, sonder reaksie daarop. Daarna is weer vrae gerig wat ook nie beantwoord is nie, sê hy. Rdl. Schoonwinkel sê dis betekenisvol dat alle raadslede sy eis gesteun het vir ‘n onmiddellike omvattende ondersoek met aanbevelings wat oplossings aandui.
Gazette het reeds in April vanjaar berig dat die projek waarmee die watersuiweringswerke in Vredefort opgegradeer is, volgens die raadgewende konsultante vir die projek, weens ‘n gebrek aan fondse nie afgehandel kon word nie.
Ngwathe se komitee vir Infrastruktuur en Plaaslike Ekonomiese Ontwikkeling het egter ná ‘n ondersoek en besoek aan die projek vasgestel dat ‘n kontrakteur vir die projek te veel betaal is. Stappe sou toe gedoen word om die oorbetaling wat sowat R1,6m beloop het, terug te verhaal sodat dit in die projekfonds teruggeplaas kan word.
Die komitee het gevra dat die aangeleentheid dadelik ondersoek moet word en dat stappe geneem moet word teen dié wat vir die foutiewe betaling verantwoordelik was. Die opgradering van die watersuiweringswerke in Vredefort het werk aan die pompstasie by die onttrekkingspunt uit die Vaalrivier behels, asook installering van addisionele pompe en verbeteringe aan die suiweringswerke self, maar die vermoë daarvan sou nie vergroot word nie. Teen April was die projek sowat 96% voltooi, maar die tydsverloop daaraan verbonde het toe al die beraamde voltooiingstyd by verre oorskry.
Die Infrastruktuur komitee wag ook tans op ‘n verslag oor die Ngwathe projekte, is verneem.
* DA raadslede het intussen aangedui dat hulle graag saamwerk met enige legitieme burgerlike groep wat binne die perke van die wet wil optree in belang van beter munisipale dienslewering. Hieronder tel AfriForum en ook Save Ngwathe. Die DA het ook AfriForum se hofsaak oor Parys se drinkwaterkwessie verwelkom.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button